Verskillende soorte gemoedsteurings

Verskillende soorte gemoedsteurings

 

 

1. Depressiewe steurings

1.1 Major Depressiewe Steuring

A. Minstens vyf van die volgende simptome kom gedurende dieselfde tydperk vir minstens veertien dae voor.

1. ‘n Bedrukte gemoed

2. Verminderde belangstelling en/of ervaring van plesier

3. Swakker/groter eetlus of afname/toename in gewig

4. Slaaploosheid of oormatige lomerigheid

5. Gevoel van nutteloosheid of oormatige skuldgevoelens

6. Psigometriese vertraging of agitasie

7. Aanhoudende moegheid en verlies aan energie

8. Afname in denk- en konsentrasievermoë

9. Terugkerende gedagtes oor die dood of selfdood

B. Die simptome beïnvloed ‘n persoon se werks en/of sosiale funksionering negatief.

C. Bogenoemde is nie die gevolg van ‘n algemene mediese toestand, medikasie, middelmisbruik of rouproses nie. Major Depressiewe Steuring is die mees algemeenste vorm van depressie en ‘n eerste episode kom dikwels voor na blootstelling aan stres. ‘n Major Depressiewe episode kan voorkom met of sonder angssimptome. In ernstige gevalle kan psigose voorkom.

1.2 Distimiese Steuring

A. ‘n Bedrukte gemoed, minstens twee jaar lank

B. Twee of meer van die volgende simptome moet teenwoordig wees:

1. Swak of oormatige eetlus

2. Slaaploosheid, oormatige lomerigheid

3. Lae energievlakke en moegheid

4. Swak selfbeeld

5. Gebrekkige konsentrasie en/of besluitloosheid

6. Gevoel van hopeloosheid

C. Die persoon was nooit sonder simptome vir langer as twee maande sedert die aanvang van die toestand nie

D. Nie gevolg van ‘n chroniese of swak behandelde Major Depressiewe Steuring nie.

E. Nie gevolg van ‘n bipolêre siekte nie

F. Dit kan nie toegeskryf word aan ‘n psigotiese siekte, soos skisofrenie nie

G. Dit is nie die gevolg van voorgeskrewe medikasie, wettige/onwettige middels of ‘n algemene mediese toestand soos byvoorbeeld skildklierprobleem nie

H. Die simptome veroorsaak beduidende ongemak en gebrekkige funksionering op sosiale en/of beroepsvlak

Distimie is ‘n redelike algemene toestand wat maklik misgekyk kan word. Omdat die simptome nie so erg is soos ‘n Major Depressiewe episode nie, leef baie mense vir jare daarmee saam en begin die persoon en ander mense glo dat die negatiwiteit deel is van hul persoonlikheid. Distimielyers ondervind dikwels probleme op interpersoonlike vlak en middelmisbruik is ‘n algemene probleem. Alkohol of stimulante kan misbruik word in ‘n poging om hul simptome te verlig.

1.3 Postpartum/ Peripartum depressie

Postpartum depressie verwys na depressie wat na die geboorte van ‘n baba ontwikkel. Peripartum depressie verwys na depressie wat reeds tydens swangerskap begin en voortduur na die geboorte. Hierdie tipe depressie kom voor by ongeveer 3% tot 6% van vroue.

2. Bipolêre Steurings

Bipolêre steuring verwys na die twee pole van die siekte nl. ‘n maniese fase en ‘n depressiewe fase. Ten spyte daarvan dat ander mense agterkom dat ‘n persoon se gedrag verander en onvanpas is, voel die persoon wat ‘n maniese fase beleef meestal so goed dat hulle nie glo dat hulle hulp nodig het nie. Mense soek dikwels eers hulp tydens ‘n depressiewe fase. Dit kan daartoe ly dat die toestand verkeerdelik gediagnoseer kan word as Major Depressiewe Steuring en dus nie korrek behandel word nie.

In die voorwoord van Piet Oosthuizen se boek Ontsnap van Depressie, vertel Amanda Strydom van haar stryd en oorwinning oor Bipolêre Steuring. Sy skryf: “Bipolêre gemoedsversteuring neem jou op ‘n ekstatiese vlug en laat val jou hard in die donker, verlammende greep van depressie. Ek ken die ekstase van almagtig voel, om te hallusineer, buite beheer op te tree en ‘n volslae gek van my te maak.” Die volgende is ‘n paar rolprente waar die tema van Bipolêre gemoedversteurings voorkom: Silver Lining Playbook, Michael Clayton, Infinitely Polar Bear, Mr Jones met Richard Gere, Touched with Fire, The Informant!, Bipolar Rock ‘n Roller en Inside Out.

2.1 Bipolêr l Steuring

Vir die diagnose van Bipolêre l steuring moet daar minstens een maniese episode voorkom. Die diagnose van Bipolêre l Steuring kan gemaak word selfs al het die persoon nog nooit ‘n depressiewe fase gehad nie. Vir die diagnose van Bipolêre l Steuring is dit nodig dat die maniese episode aan die volgende kriteria voldoen: ‘n Maniese Episode

A. ‘n Duidelik abnormaal verhewe, euforiese of geïrriteerde gemoedstoestand wat minstens ‘n week lank duur of hospitalisasie vereis.

B. Tydens die episode moet daar drie of meer van die volgende simptome heeltyd en beduidend aanwesig wees:

1. ‘n Gevoel van verhoogde eiewaarde of grootheidswaan

2. Verminderde behoefte aan slaap

3. Meer spraaksaam

4. Vlug van idees (gedagtes spring van een onderwerp na die volgende)

5. Aandag word maklik afgetrek deur onbelangrike stimulusse

6. Vermeerdering van doelgerigte aktiwiteite (by die werk, sosiaal en/of seksueel) of toenemende psigomotoriese rusteloosheid

7. Oormatige betrokkenheid by hoërisiko-plesieraktwiteite (bv. roekelose inkopietogte, seksuele losbandigheid en/of onoordeelkundige sakebesluite)

C. Funksionering op werks- en/of sosiale vlak is ingekort; hospitalisering is nodig of daar is psigotiese simptome (dikwels waargeneem deur ander mense)

D. Die simptome kan nie aan die fisiologiese uitwerking van medikasie of dwelmmisbruik of ‘n algemene mediese toestand gekoppel word nie

2.2 Bipolêr ll Steuring

By Bipolêr ll Steuring is hipomaniese en Major Depressiewe episodes teenwoordig. Die simptome van ‘n hipomaniese episode stem baie ooreen met die van ‘n maniese episode, tog is daar ‘n verskil in die tydsduur van ‘n episode. Waar daar by bipolêr  l ‘n duidelik abnormaal verhewe, euforiese of geïrriteerde gemoedstoestand teenwoordig moet wees vir minstens ‘n week, is die vereiste vir hipomanie die teenwoordigheid van bogenoemde simptome vir minstens vier aaneenlopende dae.

3. Ander gemoedsteurings

3.1 Gemoedsteurings sekondêr tot ‘n algemene mediese toestand

Ons weet dat daar ‘n definitiewe interaksie tussen ‘n mens se liggaam en brein is. Daar is verskillende mediese toestande wat kan lei tot gevoelens van depressie of selfs aanleiding kan gee tot ‘n maniese episode. In die geval is die gemoedsteuring die gevolg van iets anders en is deeglike mediese ondersoeke nodig om die oorsaak te bepaal. Voorbeelde van mediese siektes wat kan lei tot depressie: Chroniese pyn, Alzheimersiekte, beroerte, Cushingsiekte, Huntington se siekte, chroniese bloedarmoede, chroniese infeksies, MIV/Vigs, Parkinsonsiekte, Pofirie, skildklierprobleme en vitamientekorte, bv. ‘n tekort aan vitamien B1, vitamien B12 of foliensuur.

Voorbeelde van mediese toestande wat kan lei tot manie – Breingewasse, sifilis, skildklierprobleme, veelvuldige sklerose en Vitamiene B12-tekort

3.2 Middel-geïnduseerde gemoedsteuring

Daar is verskillende middels wat ‘n persoon se gemoed kan beïnvloed en aanleiding gee tot depressiewe of maniese simptome. Alkohol, sekere voorgeskrewe medikasie of oor-die-toonbank medikasie, soos eetlusdempers en ander onwettige middels kan aanleiding gee tot gemoed-steurings. Die gemoedsteuring wat veroorsaak word kan verskil van middel tot middel en varieer van persoon tot persoon.

* Die inligting is slegs ‘n kort opsomming van die verskillende gemoedsteurnisse.  Die skrywer maak nie aanspraak dat dit gebruik kan word vir selfdiagnose of behandeling nie. As jy jou in van die inligting hierbo erken, kontak jou dokter.

 

Exit mobile version