MotoringSport

Supersport ook hier vir skole-rugbyweek

Supersport ook hier vir skole-rugbyweek

 

 

Skole-rugby op sy beste sal volgende week in Parys gesien word met 21 wedstryde wat hier op Hoërskool Parys se rugbyvelde gespeel word tydens die Namgola Logistics Parys Alumni o.19 Rugbyweek.

Die week word van 22 tot 25 Maart aangebied met 14 skole se spelers en afrigters wat sal deelneem. Al die wedstryde sal deur Supersport op hul Supersport Schools platform gestroom word.

Deelnemende skole sluit in Parys, Hennenman, President Steyn, Heilbron, Balfour, Piet Retief, Harrismith, Brandfort, Wessel Maree, Hoopstad, Belvedere, Nylstroom, Vaalpark en Sasolburg Hoër. Die doel van die week is om die geleentheid te skep vir jong spelers om hul vaardighede op die rugbyveld te verbeter, en hul voor te berei vir die rugbyseisoen wat voorlê. Die week is ‘n enorme finansiële inspuiting vir die dorp se ekonomie, maar ook plattelandse rugby as sulks.

Elke span kry tydens die week die geleentheid om drie wedstryde oor die vyf dae periode te speel.

Tussendeur word daar ook ‘n dag opsy gesit vir ‘n pretaktiwiteit vir die deelnemende spelers. Die voormalige Springbok en Tukkies spesialis-skrumafrigter, Richard Bands, sal ‘n skrumsessie vir die spelers en afrigters aanbied, en Bok-legende, Victor Matfield, kom Donderdag, 24 Maart met die spelers gesels.

Die week word ondersteun deur SARU-skeidsregters en ontwikkelende skeidsregters vanoor Suid-Afrika wat aan die week sal deelneem om ook hul ervaring op te skerp.

Om van die rugbyweek ‘n selfs nog groter sukses te maak, is die ondersteuning van die Parys-gemeenskap baie nodig en word elke Parysenaar genooi om na die wedstryde te kom kyk. Hierdie is ‘n geleentheid waarna twee jaar lank uitgesien is en kan goeie rugby verwag word. Kom ons maak die paviljoen vol!

Toegang kos R10 per persoon. Kinders onder die ouderdom van 12 jaar kan die wedstryde gratis kom kyk mits hy/sy deur ‘n volwassene vergesel word. Reg van toegang sal voorbehou word en onthou om jou masker saam te bring en sosiale afstand om die veld te handhaaf.

 

 

 

Related Articles

Back to top button