Vaardige VLU-vroue se handewerk beloon

Vaardige VLU-vroue se handewerk beloon

 

As daar nou een maal iets is wat sinoniem is met die Vroue Landbou Unie, dan is dit die vaardigheid van dié vroue wat geen geleentheid laat verbygaan om iets nuuts te leer nie – óf dit nou agter die kameralens is, of ‘n nuwe borduurtegniek.

Parys se Vroue Landbou Unie dames het beslis ook gewys watter talente hulle het by vanjaar se areakonferensie waar verskeie plekke verower is.

Annatjie Dreyer ontvang ‘n derde plek vir haar masjiengeborduurde plekmatjie, terwyl Erna Hattingh kon spog met ‘n derde plek vir beginners hekelwerk, en boonop ‘n eerste plek vir skryfwerk. Bernadet van der Ende het ‘n vierde plek vir fotografie verower.

‘n Eerste plek is toegeken aan Cynthia Bergh vir haar Richelieu borduurwerk, asook ‘n eerste plek vir preservering en derde plek vir fotografie. Sy ontvang ook die prys vir die dame wat die meeste punte op die konferensie behaal het.

Wileria Roux het erkenning gekry vir haar skryfkuns deelname, en Marietjie le Roux ontvang ‘n derde plek vir haar skilderkuns.

Marie Casteleijn het erkenning gekry vir skryfkuns deelname.

Die tak verower die beker vir die beste bywoning van die 2022 konferensie met meer as 90% van lede wat die konferensie bygewoon het.

Die vroue wat uitgeblink het by die areakonferensie is Annatjie Dreyer, Erna Hattingh, Bernadet van der Ende, Cynthia Bergh, Wileria Roux, Marietjie le Roux en Marie Casteleijn. Foto: Verskaf

Met die VLU-byeenkoms op 1 Maart, aangebied deur Wileria Roux en Cynthia Bergh, is gesels oor tuisteskepping en is daar tussendeur die heerlike saamkuier gekyk na ‘n kits demonstrasie vir die maak van roompoffertjies, en daarna ‘n vinnige rondte vasvra. En as jy nog altyd gedink het daar is veel meer in ‘n koppie tee, het Wileria die dames vertel van die kwaliteite van verskillende soorte tee, wat kan help met al wat kwaal is.

Só help tee jou:

Energie– Pepperment, Matcha, Groentee. Ontspan, slaap – Kava, Kamille, Ginseng, Laventel.

Naarheid, spysvertering – Gemmer, Fennel, Suurlemoen.

Verkoue -Echninaeae, wit tee, kaneel.

Detox – Dandelion, Netel.

Hardlywigheid– Senna, Naeltjies. 

 

Die paring van kos en drank is ook ‘n kuns op sy eie, en het Cynthia alles en nog wat hieroor met die dames gedeel.  

 

So saam met die kuier by die Maart VLU-byeenkoms is daar baie geleer by Cynthia Bergh. Foto: Verskaf

Kom luister en kuier saam op 5 April wanneer die groep dinamiese vroue weer bymekaar kom. Die tema is aktuele sake en of jy lid is of nie – jy is welkom om selfs as gas net te kom saamkuier. Skakel Bernadet by 082 474 0304, of Annatjie by 082 464 0204, vir meer inligting oor die VLU byeenkomste.

Dit maak nie saak of jy jonk of oud is nie, vaardig met jou hande, tien duime aan een hand, of bloot handwerk kan waardeer.

Hierdie is ‘n groep vroue van wie sommige beroepsvroue is, en ander tuisteskeppers, wie se passie vir handvlyt aansteeklik is. Hulle deel graag hul kennis, wenke en vaardighede en leer by mekaar. Jy hoef ook nie aan projekte deel te neem nie. In vandag se gejaagde lewe van vrou-wees, ma-wees en dikwels ook nog voltyds beroepsvrou-wees – is hierdie dalk net die geleentheid vir jou om ‘n nuwe stokperdjie of vaardigheid te leer.  

VLU kitswenke vir die maand

* Om ‘n wegvoerpyp te ontstop, gooi koeksoda en asyn in water en spoel die pyp.

* Om boute of skroewe los te maak, gooi Coca Cola oor.    

 

 

 

Related Articles

Back to top button