Munisipale verkiesing: Hoe werk stembriewe

Munisipale verkiesing: Hoe werk stembriewe

  Tydens ‘n munisipale verkiesing, anders as by ‘n nasionale verkiesing waar kiesers slegs vir ‘n party stem en die party sy kandidate intern aanwys, kan kiesers met ‘n munisipale verkiesing ook stem vir ‘n spesifieke kandidaat om sy/haar wyk in die stadsraad te verteenwoordig.

Kiesers stem eerstens vir ‘n kandidaat om die wyk waarin die kieser woon in die raad te verteenwoordig.

Die stembrief wat vir hierdie doel gebruik word bevat benewens die partye se embleme, ook die name van die kandidate wat elke deelnemende party in die verkiesing verteenwoordig.

Die kandidaat wat met die stembriewe die meeste stemme op hom/haar verenig, word dan die wyksraadslid vir die wyk. Kiesers kry egter ‘n tweede stembrief waarop net die relevante partye se embleme verskyn.

Dit word gebruik om te stem vir die kandidate wat hul partye as proporsionele kandidate sal verteenwoordig.

‘n Munisipale raad word deels (50%) saamgestel uit wyksraadslede en deels (50%) uit proporsioneel verkose raadslede. Die berekening om te bepaal hoeveel proporsionele kandidate ‘n spesifieke party verkies gekry het, geskied deur al die stemme wat die party op beide die wyk stembriewe en proporsionele stembriewe gekry het, bymekaar te tel, en dan te bepaal watter persentasie van die totale aantal stemme uitgebring ‘n bepaalde party verkry het.

‘n Party wat dan byvoorbeeld 40% van die totale stemme (op beide stembriewe saamgetel) verkry het, kry ook 40% van die beskikbare setels vir proporsionele raadslede. Soos met nasionale verkiesings wys partye intern hul propor-sionele raadslede in volgorde van voorkeur aan.

Kiesers moet dus in gedagte hou dat jy jou eie stem, wanneer dit by proporsionele raadslede kom, eintlik neutraliseer indien jy op die eerste stembrief vir een party en op die tweede vir ‘n ander party sou stem.

Kiesers kry egter ook ‘n derde stembrief. Hierdie stem bepaal ‘n deelnemende party se verteenwoordiging in die Distriksraad. Raadslede vir die Distriksraad word slegs op proporsionele basis verkies. Die stembriewe bevat gevolglik weer eens nie enige kandidate se name nie, maar slegs die embleme van die deelnemende partye.

Soos verduidelik met die tweede stembrief vir die munisipale raadslede, verkry ‘n party setels in die Distriksraad ooreenkomstig persentasie wat die totale aantal stemme op hom verenig verteenwoordig, teenoor die totale stemme uitgebring.

Weer eens wys partye intern hul kandidate in voorkeurvolgorde aan. 

 

Related Articles

Back to top button