Parys se bergfiets-koning

Parys se bergfiets-koning

 

Wanneer jou bergfiets meer as jou ouboet se eerste kar kos, moet jy weet jy is in vir ‘n ding.
Met ‘n prysetiket van R114 000 is dit geen wonder dat die 17-jarige Johan Fourie de Villiers heilig is oor sy Trek Super Caliber nie. Maar sy koolstofvesel-ysterperd is elke sent dubbel en dwars werd.
Dit is op 25 September in Pietermaritzburg weer bevestig toe hy die Junior Mans-afdeling van die SA XCO Kam- pioenskap gewen het. “Dit was een van my grootste drome om die SA XCO te wen en ek het hard geoefen om dit te bewaarheid. Sonder om voorbarig te klink kan ek sê dat ek geglo het ek kan dit eendag wen,” sê die bergfietskoning van Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark.

“Ek is baie erg oor my ‘toerusting’. My fiets slaap in die huis. Niemand mag dit waag om hom te skuif nie.
“Ek is té bang hulle krap hom. So my ma, Alwin, raak nogal baie geirriteerd met my fiets in die huis,” skerts hy.
Maar die De Villiers-gesin van Parys in die Vrystaat is gelukkig ‘n sportiewe gesin wat sulke “onsportiewe” gedrag laat verbyglip. Pa Johan (46), ‘n sakeman, is self ‘n kranige sportman wat al die Cape Epic gery het, en die Comrades Ultra Marathon al nege keer kafgedraf het.
Sy broer Renier de Villiers is ook ‘n ontluikende 800m-beroepsatleet vir wie daar ‘n groot toekoms voorspel word.

Johan jr. is baie bevoorreg dat sy pa sy afrigter en oefenmaat is.
Hy spandeer sowat 14 uur per week op sy fiets en wanneer die dag se uurglas soms té vinnig uitloop, sal sy pa met sy kar agter hom ry om lig te verskaf.

“Ek oefen baie by Koedoeslaagte. Dis ook ‘n MTB Park net so ‘n paar kilometer buite Parys,” vertel hy. Dis by die einste Koedoeslaagte waar hy al lekker grond gekoop het. Maar sy benadering tot die sport is eenvoudig: Vat jou pak soos ‘n man en gee altyd 200%. Hy is ‘n selferkende adrenalienverslaafde wat in graad vier deur die bergfietsgogga gebyt is.

Hy het ‘n mededingende streep weg en hoewel die gebrek aan deelname weens Covid hom frustreer het, kon hy darem uiting aan sy frustrasies op hul goedtoegeruste tuisgimnasium gee. Hy is ook baie gesteld daarop om beskeie te bly. “Ek dink elke mededinger onderskei hom op sy eie manier, maar ek sal voor ‘n groot race eerder by die huis bly en vroeg gaan slaap, in plaas daarvan om saam met vriende uit te gaan.

Ek gee altyd 200% maar dis belangrik om nederig te bly,” gee hy te kenne. Sy droom om eendag ‘n beroeps bergfietsryer te word en Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig, is ook nie net nog ‘n droom nie. Hy het hope talent en goeie gene in daardie bene. Hy het al die Nissan Trail Seeker (40km) en die Fast One (40km) gewen.

Sy advies vir ander atlete wat die sport wil of tans beoefen, is kort en kragtig.
“Glo in jou drome. Om te perform moet jy opoffer, gedissiplineerd wees en altyd nederig bly,” sê hy.

 

Exit mobile version