Potch gasheer vir nasionale sweeftuig kampioenskappe

Potch gasheer vir nasionale sweeftuig kampioenskappe

   

Die Suid Afrikaanse Nasionale sweeftuig kampioenskappe word vanjaar van 3 tot 9 Oktober by die Potchefstroom-lughawe beslis en word aangebied deur Akavlieg – Potch Gliding. ‘n Sweeftuig is ‘n vliegtuig wat sonder ‘n enjin deur die lug kan sweef – letterlik vir ure aaneen as daar genoeg lugstrome (thermals) is om hulle in die lug te hou. Trouens – vlugte van meer as 1 000km word gereeld in SA gedoen. Sweeftuie het besonder lang vlerke om hul stygkrag te verhoog, en word van ligte materiale vervaardig. Laaghout, veselglas of “fibre composites” word gewoonlik hiervoor ingespan. Sommige beskik oor ‘n klein enjin  om hul vlug mee te verleng en sommige kan selfs op eie stoom opstyg. Die vlieënier moet stygende lugstrome vind om in die lug te bly.

Sulke lugstrome word veroorsaak deur wind wat teen heuwels opwaai, asook deur warm stygende lugstrome. Die langste sweeftuigvlug was 1 600 km. In ons omgewing is daar twee gevestigde klubs – Potchefstroom en Parys. Beide klubs bestaan al langer as 40 jaar. Oor die hele SA is daar in totaal 18 klubs met meer as 400 vlieëniers. Opleiding vir sweeftuig vlieg word gedoen deur gekwalifiseerde instrukteurs onder die wakende oog van burgerlugvaart. Opleiding is goedkoop en kan ‘n vlieënier ‘n GPL (Glider Pilot Licence) bekom teen ongeveer ‘n vyfde van die prys van ‘n gewone vlieglisensie. Klubs het sweeftuie en hoef nuwe vlieëniers eintlik nooit ‘n sweeftuig te koop nie. Belangstellende vlieëniers kan vanaf ouderdom 14 jaar tot 65 en ouer opgelei word.

Suid-Afrika se Oscar Goudriaan het vroeër in September in Frankryk aan die FAI Sailplane Grand Prix Finals deelgeneem. As jy meer te wete wil kom oor hierdie ongelooflike sport, skakel Mark Pretorius (Parys) by 083 701 0493, of Jason Adriaan (Potchefstroom) by 079 030 6500. Jy kan ook die webtuiste, www.sssa.org.za besoek of kyk na die Facebook-blad van Soaring Society of South Africa.  

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version