Vrywilligers: Die hartklop van VVA

Vrywilligers: Die hartklop van VVA

     

 

Sy hande staan vir niks verkeerd nie. Óf dit nou ‘n nutstakie is, óf skenkings vir voedselpakkies wat opgelaai moet word. Waar ook al hy nodig is, daar is Archie Norval. Geen wonder dat daar by die VVA-kantoor in Buitenstraat na Archie verwys word as hul “Jack of all trades”.

Archie is al die afgelope 11 jaar ‘n vrywilliger by dié kantoor waar hy ook aangestel is as hul nutsman, maar dit is die ekstra myle wat hy loop wat nie ongesiens verbygaan nie. Selfs sy familie en ses kleinkinders, span hy gereeld in om ook te help en van hul tyd te gee om die nood van ander te help verlig.

Vir Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) is vrywilligers die kosbare hartklop van dié organisasie. Dit is hulle wat die hande en voete is van VVA wat met hul kennis en vaardighede, of selfs net die bereidheid om ‘n hand by te sit met fondsinsamelingsprojekte, om te help in die sopkombuis, of waar ook al die behoefte is, die VVA se hand sterk om hulp te verleen in ‘n gemeenskap waar nood by die dag groter word. Hoewel geldelike bydraes help, is die tyd wat vrywilligers gee dit wat die VVA in staat stel om na soveel moontlik mense te kan uitreik. Covid-19 het ook sy tol op die beskikbaarheid van vrywilligers geëis, en is die hande wat kan help in die Sakpas Winkel en met fondsinsamelings baie min. Dalk het jy nie geld om by te dra om ‘n verskil vir iemand te maak nie.

Dalk voel jy oorweldig deur die nood daar buite, maar weet nie hoe om te help nie. Deur ‘n vrywilliger te wees, maak jy wel ‘n verskil vir iemand anders wat weer deur VVA gehelp word. Al wat nodig is, is jou tyd, ‘n omgeehart en bereidwilligheid om te help. VVA het JOU hande nodig. As jy graag betrokke wil raak by VVA as vrywilliger en ook op hierdie manier ‘n verskil wil maak om die nood van ander te verlig, skakel die VVA-kantoor by (056) 811 2971.

Vrywilligers is ‘n deel van VVA

Die stigting van die organisasie in 1908 was ook grootliks deur die werk en visie van vrywilligers. Uit die nederige begin in 1908 het ‘n dinamiese organisasie gegroei met ‘n personeelkorps wat dienste oor ‘n breë spektrum lewer. Vandag is dit steeds die betrokkenheid van vrywilligers wat die verskil maak in die gehalte van diens wat gelewer word. Hoewel die profiel van die vrywilligers aansienlik verander het oor die jare, is hul dienste steeds onontbeerlik en vorm dit oor die hele provinsie die ruggraat van die VVA.

Wat is ‘n vrywilliger by VVA?

‘n Vrywilliger is ‘n persoon wat uit eie wil en oortuiging ‘n diens lewer sonder die verwagting van vergoeding. Die betrokkenheid van vrywilligers versterk enige gemeenskap deurdat dit positiewe maatskaplike verandering en ontwikkeling bevorder.

 Vrywilliger betrokkenheid bevoordeel sowel die vrywilliger as die organisasie deur sosialisering met ander vrywilligers, persoonlike groei en ontwikkeling, aanleer van nuwe vaardighede, en die uitleef van belangstellings en vaardighede.

 Vrywillige werk vergroot die kapasiteit van die organisasie en verhoog die moontlikheid om doelwitte te bereik.

 Vrywilligers gee hulle tyd, vaardighede en energie op verskillende wyses tot voordeel van die organisasie en gemeenskap.

 Vrywilligers respekteer die regte en menswaardigheid van alle kulture.

 Vrywilligers is nie plaasvervangers vir permanente personeel nie, en is hulle dus nie ‘n bedreiging vir mekaar nie.  

 

Related Articles

Back to top button