‘n Ongewone besoeker in Parys

‘n Ongewone besoeker in Parys

 

 

Die voëlkykers is altyd besig om te kyk wat in hul omgewing aangaan. Waar jy ry of waar jy bly verander die voëls soos wat hulle agter kos aan trek of, afhangende van die seisoen, trek en weer terugkom. Ons is gewoond aan die duiwe, tiptolle, muisvoëls, vinke en ander wat deur die jaar, wel soms in ander veredosse as dit nie broeiseisoen is nie, in ons omgewing hier in Parys is. Soms word ons egter verras deur ‘n vreemde besoeker wat ons vinnig na voëlboeke laat gryp om vas te stel wat dit is, en ons hoor by vriende of ons reg gesien het.

Op 23 Augustus 2021 was dit Resa van der Merwe, van die Vaal de Grace Nature Estate hier in Parys, se beurt om daardie spesiale voëltjie in haar tuin te kry. As jy hom sien dan wonder jy altyd is dit of is dit nie? Sy het egter haar kamera byderhand gehad en foto’s geneem en dit het haar gehelp om sonder twyfel vas te stel dat dit die Geelborswillie is wat toe vir so twee weke by hulle gekuier het. Die foto is ook op die lys van rare voëls vir die omgewing geplaas. I

s dit vreemd? Verseker. Die Geelborswillie / Yellow-bellied Greenbul verkies bosse en ruigtes in die warmer dele van die land vanaf die suidkus van Kwazulu-Natal deur Mapumalanga tot in Limpopo. Die voëltjie wat effe groter as die mossie is, is egter ook besig om sy gebied te vergroot en hulle is al in Gauteng en Noordwes gekry. Volgens mense wat al jare in die Parys-omgewing voëls kyk, is die Geelborswillie nog nooit hier gesien nie. Dus ‘n eerste vir Parys en soos hulle in Engels sê, Resa, “Well spotted”.

Dankie ook vir jou foto van die Geelborswillie. Dit wys maar net weer, ons moet nooit ophou soek na daardie spesiale een nie. Hy sit dalk net agter die volgende tak. Feathers Voëlklub was baie stil oor die afgelope maande maar dit is weer warmer en ons gaan weer die uitstappies hervat. Voëlkykers wat op die verspreidingslys is, sal die boodskap kry. Indien jy belangstel om saam te gaan, skakel gerus vir Hansie Bekker by (056) 811 4754 / 082 820 4306) of Peter Killian by 083 625 8100.  

Related Articles

Back to top button