Maatskaplike werker getuig oor vyf se verslae

Maatskaplike werker getuig oor vyf se verslae

 

Voorvonnis getuienis is Vrydag einde ten laas in die Hoë Hof in Parys gehoor vir Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren, wat reeds in 2020 deur regter Corné van Zyl skuldig bevind is aan aanranding op Samuel Tjixa en Tumelo Simon Jubeba. Loedie van der Westhuizen (jr.) is ook skuldig bevind aan ‘n klag van regsverydeling.

Betoë op dié getuienis sal nou op 9 September gehoor word wanneer die hofverrigtinge hervat.

Tydens Vrydag se hofsitting is Petro Prinsloo, ‘n maatskaplike werker van departement korrektiewe dienste na die getuiebank geroep en onder kruisondervraging geneem. Sy het die maatskaplike verslae vir al vyf mans opgestel waarin opgeskorte vonnisse of korrektiewe toesig as moontlike vonnisse voorgestel word, en in die geval van Cor Loggenberg en Loedie van der Westhuizen, uitgestelde vonnisse.

Uit die inhoud van die verslae is getuig dat die mans nie ‘n gevaar vir die samelewing inhou nie, reeds erge trauma ervaar het weens die uitgerekte verhoor, en berou toon.

Eers nadat die betoë op 9 September gehoor is, sal vonnis opgelê kan word. Die verhoor duur nou reeds meer as twee jaar en vyf maande (64 hofdae).

Hofverrigtinge vir die indien van die voorvonnis getuienis sedert die uitspraak in Mei 2020, moes vyf keer uitgestel word weens verskeie redes.

Met regter Van Zyl se uitspraak is net ‘n verkorte weergawe van die uitspraak in die hof gehoor weens die Covid-19 beperkings wat ook in howe gegeld het, en vanweë die lywigheid van die uitspraak wat 427 bladsye lank is.

Die staat het in sy saak aangevoer dat die beskuldigdes vir Tjixa en Jubeba na bewering sodanig sou aangerand het op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik dat hul kort daarna aan hul beserings beswyk het in die Parys en Pelenomi-hospitale onderskeidelik. Tjixa en Jubeba is deur ‘n groep mans aangekeer nadat verskeie boere op die noodroep gereageer het na ‘n plaasaanval op Loedie van der Westhuizen (sr.) op die plaas Biesiesbult.

Dit was uiteindelik die getuienis van ‘n afgetrede patoloog, prof. Jan Botha, wat vir die verdediging getuig het, wat die staat se getuienis op sy kop gedraai het. Regter Van Zyl het in haar verkorte uitspraak verlede jaar gesê, prof. Botha se getuienis was onbetwisbaar en was dit wat hy getuig het in skerp kontras met wat deur die 204 getuies in die hof gesê is. Hy het sy getuienis suiwer gebaseer op die nadoodse verslae, foto’s en ander getuienis wat toe reeds voor die hof gehou was.

Dit was uit sy getuienis duidelik dat die oorledenes kon sterf weens onvoldoende mediese hulp, en die ernstige beserings wat hul moontlik kon opdoen in hul reeds beseerde toestand toe hulle oor ruwe terrein van die plaas Swartklip met ‘n polisievangwa vervoer is om die ambulans langs die pad te ontmoet wat hulle verder sou vervoer.

Die verskil tussen ‘n opgeskorte vonnis en ‘n uitgestelde vonnis: ‘n Opgeskorte vonnis word aan ‘n tydperk gekoppel, byvoorbeeld sou die hof drie jaar gevangenisstraf oplê kan dit in geheel of gedeeltelik opgeskort word vir ‘n bepaalde tydperk. So byvoorbeeld sal opgeskort vir vyf jaar beteken jy moet jouself vir vyf jaar nie skuldig maak aan dieselfde oortreding as waarvoor jy gevonnis is nie. Sou jy jou dan wel binne die opgeskorte termyn skuldig maak aan dieselfde oortreding, beteken dit die nuwe vonnis tree saam met die bestaande vonnis in werking.

‘n Uitgestelde vonnis daarenteen beteken jy word nie onmiddellik gevonnis nie, maar kan binne die gestipuleerde tydperk van ‘n maksimum van vyf jaar enige tyd opgeroep word deur die hof vir ‘n ondersoek en selfs vonnis, al het jy geen oortreding in die tydperk begaan nie. By ‘n opgeskorte vonnis weet jy dus presies wat om te verwag, maar by ‘n uitgestelde vonnis is daar geen sekerheid nie.  

 

   

Related Articles

Back to top button