‘Die waarde van stil bure’ – nóg ’n eerste vir Zelda

‘Die waarde van stil bure’ - nóg ’n eerste vir Zelda

 

 

Die dood van haar identiese tweelingsuster, ‘n onwaarskynlike vriendskap met haar eksentrieke buurman, en haar betrokkenheid by die omstrede wêreld van stamselnavorsing.

Só word Magdaleen Verster ingesuig by ‘n intrige wat uiteindelik tot moord lei. “‘n Gevaarlike vreesloosheid tree in as die ergste ding wat in die lewe met jou kán gebeur, reeds gebeur het.”

Dit is wat Magdaleen besef wanneer sy groot risiko’s begin neem. Die waarde van stil bure is skrywer Zelda Bezuidenhout se eerste spanningsroman.  

 

 

Dit is ook ‘n verhoudingsroman met heelwat elemente van mediese intrige. Die verhaallyn is fyn verweef met die tema van verlies, en die gekompliseerdheid van verhoudings. Hoewel dit die eerste keer is wat sy haar hand aan dié genre waag, kry dié talentvolle Parysenaar dit weer reg om jou vasgegom te hou aan die boeiende storie wat op die bladsye omvou. ‘n Eertydse kollega van Zelda was die inspirasie vir die tweeling-tema in die boek. Die rol wat stamselnavorsing speel, het begin vorm aanneem toe sy ‘n medikus en ‘n wetenskaplike “afgeluister” het toe hulle oor die onderwerp praat. Sy het skielik besef hoeveel opwinding daar in die wêreld van mediese navorsing bestaan en wou dit vir haar boek gebruik.

“Op dié gebied is die waarheid dikwels vreemder as fiksie,” sê sy. Haar eerste volwasse roman – Die Dekonstruksie van Retta Blom (Kwela, 2019), was besonder gewild. Sy erken ruiterlik dat toe haar uitgewer haar in September 2020 bel om haar daaraan te herinner dat haar tydgleuf vir ‘n nuwe volwasse roman Augustus vanjaar is, was sy benoud.

“Jou eerste boek kan maklik beginner’s luck wees, maar met jou tweede boek moet jy jouself kan bewys.” Sy het intensief begin navorsing doen en hoewel die wetenskap in die boek op ware feite gebaseer is, is die karakters en gebeure fiktief. Zelda vertel dat sy in die bevoorregte posisie was om toegang te hê tot ‘n wetenskaplike wat al baie jare lank besig is met stamselnavorsing. Hy het haar ongelooflik baie gehelp om ingewikkelde fisiologiese prosesse te verstaan en eenvoudig te beskryf. Die boek is in vier maande voltooi.

Die skrywer Zelda Bezuidenhout wat ook in Parys gevestig is.

Uit haar pen het ook reeds vier jeugboeke verskyn.

Die Engelse weergawe van haar gewilde “As mens geluk kon proe”, verskyn in September as Confessions of a ginger pudding. Daarbenewens het Zelda en haar skrywersvriendin Lunéll ook die werk van jeugskrywer Sally Partrigde, Sharp Edges, in Afrikaans vertaal. Die titel van die Afrikaanse weergawe is Skerwe.

Zelda se werk is ingesluit in die erotiese kortverhaal bundel, Lyfskap, saamgestel deur Sophia Kapp en Leonie van Rensburg, en haar verhale pronk in verskeie jeugverhaalbundels.

In 2019 is haar radiodrama, “As ’n kind kom kuier” as naaswenner in RSA se radiodramakompetisie aangewys, en in 2020 wen sy en haar medeskrywer, Lunéll Kruger, ook Netwerk24 se luisterdramakompetisie met hul komedie, Koppelkat. Jong lesers kan uitsien na nog ‘n jeugverhaal van haar wat in 2022 verskyn, uitgegee deur Pan Macmillan, en ‘n jeugboek vir Afrikaans Addisionele taal hoërskoolleerders, uitgegee deur Tafelberg, wat in Februarie 2022 verskyn. Vra jy haar waaraan sy die lekkerste geskryf het, kom die antwoord – As mens geluk kon proe – haar heel eerste boek, en ‘n verhaal wat moeiteloos gevloei het.

Die waarde van stil bure word uitgegee deur Kwela Uitgewers. Dit is plaaslik beskikbaar by Meyers Ranch, Lekker Bistro en La Vie & Rose.

Volg gerus vanaand, Donderdag 12, Augustus om 20:00 die aanlyngesprek met Zelda oor Die waarde van stil bure op Netwerk24.com (gratis vir intekenare).  

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button