Niks oor ná ongeluk

Niks oor ná ongeluk

 

 

Herman Johnson is ‘n bekende in Parys se strate. Jy het hom gereeld gesien waar hy fiets trap op pad na ‘n kliënt. Agter sy fiets, die selfgeboude waentjie met sy grassnyer en alles wat nodig is om kliënte se tuine netjies te hou. Op 21 Mei is Herman net na 06:00 die oggend op die Parys/Koppies-pad naby die Schonkenville-woonbuurt deur ‘n motoris raakgery wat volgens die familie, nie op die ongelukstoneel gestop het nie.

Hoewel Herman nie ernstig beseer is nie, is sy fiets en selfgeboude waentjie, asook sy grassnyer en randsnyer afgeskryf. Sy seun het verlede week begin om die waentjie te herstel, maar Herman het nie die geld om weer ‘n fiets of ‘n gras- en randsnyer te koop nie.

As jy Herman kan help om sy onderneming weer aan die gang te kry, skakel hom by 072 764 3731. Dankie ook Magriet Meyer wat op die ongelukstoneel afgekom en gehelp het om die nooddienste na die toneel te ontbied. Hoewel die familie aanvanklik nie geweet het wie die weldoener op die ongelukstoneel was nie, het ‘n berig op die Gazette se webtuiste gehelp om Magriet op te spoor. Herman is ook die hoofleier van die Christen-gemeente in Schonkenville. Gazette het vroeër berig van sy visie vir die gemeente vir ‘n eie kerkgebou en hoe lidmate self die moue opgerol het om aan die kerk te begin bou.      

 

Related Articles

Back to top button