Nou wag 200km in saal vir 11-jarige Karisa

Nou wag 200km in saal vir 11-jarige Karisa

 

Die 11-jarige Karisa Nortman het die uitsonderlike prestasie behaal om te kon kwalifiseer vir die SA Nasionale Perde Uithourit wat in Julie oor 200km in Fauresmith beslis word. Om te kon kwalifiseer moes Karisa vooraf 3 x 80km ritte suksesvol voltooi, waar vereis word dat nie net binne die gegewe tye die afstande voltooi moet word nie, maar dat deelnemende perde ook aan die metaboliese vereistes by elke veeartspunt moet voldoen. As die perd nie aan die vereistes by elke veeartspunt sowel as by die eindpunt voldoen nie, word perd en ruiter gediskwalifiseer ongeag die tyd en prestasie gedurende die rit. Vir elke ruiter wat geëlimineer word by ‘n veeartspunt bly dit ‘n teleurstelling, veral ná soveel harde werk wat vooraf ingesit word.

Dié sport leer jou om uit te hou – want jy gaan weer moet opstaan, weer hard werk, en weer probeer. Die roetes wat gery word verg baie beplanning met opdraandes wat stadiger gevat moet word om die perde se energie te spaar, terwyl daar eerder gedraf moet word op die afdraande sodat daar nie té veel impak op die perde se bene, gewrigte en hoewe sal wees nie. Ervaring en ruiterkuns is van die belangrikste elemente van só ‘n uithourit sodat die perd makliker oor klipperige terrein kan beweeg en die impak minder is om die risiko van kruppelheid van die perd te verminder.

Karisa was van die min gelukkige ruiters wat nie by een van die kwalifiserende ritte gediskwalifiseer is nie. Trouens, sy het haar laaste kwalifiserende rit gewen en is haar perd ook as bes voorbereide perd vir die rit aangewys. Ruiters word eers vanaf 10-jarige ouderdom toegelaat om die langer afstande van 80km te ry en sal Karisa in die kinderruiter-afdeling vir ruiters 10-13 jaar deelneem. Reëls vereis dat ‘n senior ruiter die kinderruiters moet vergesel omdat hulle nog nie die ervaring het op langer afstande nie. Ma Minette wat self ‘n kranige uithourit ruiter is, sal saam met Karisa ry.

Verseker ‘n sport wat jou nederig hou!    

Exit mobile version