Bejaardes op plaas buite Fochville oorval

Bejaardes op plaas buite Fochville oorval

Vinnige hulp deur ander boere het die afgelope naweek gehelp dat rowers vasgetrek is wat ‘n bejaarde egpaar op hul plaas in die Fochville-omgewing aangeval het.

Volgens ‘n lid van die veediefstal-ondersoeksentrum (Stic) in dié omgewing, het ‘n bejaarde Duitse beesboer, mnr. G.W.O. Molzahn, Sondag omstreeks 11:00 buite die huis op die egpaar se plaas op die Crocodilian-pad gesit. Die egpaar is in hul 80’s. Die huis se agterdeur was nie gesluit nie.

Sy vrou Marie, was nog in die slaapkamer in die bed. Drie rowers, waarvan een gewapen was, het skielik op mnr. Molzahn afgestorm en hom oorval. Die rowers het hom na die kamer gedwing waar hulle sy hande met een van sy belde en sy voete met baaltou vasgebind het. Hulle het hom met ‘n wapen gedreig. Die rowers het hom rondgepluk en in ’n stadium bo-op hom gesit.

Hulle het geld geëis en die huis geplunder. Gelukkig kon sy vrou daarin slaag om ‘n buurman te skakel. Hy het dadelik alarm gemaak en hulp na die plaas ontbied. Die rowers het ‘n verskeidenheid goedere uit die huis gedra en het dit net op die egpaar se bakkie gelaai toe hulp op die plaas begin aankom. Die rowers het die bakkie met die buit net so gelos, maar het onder meer met ‘n rewolwer, geweer en twee selfone weggekom. Hulle het egter ook met die bakkie se sleutels gevlug.

Die ander boere en Stic-lede het na die aanvallers begin soek en ook ‘n privaat helikopter ingespan om met die soektog te help. Die verdagtes is omstreeks 15:00 uit die lug naby die N12 hoofweg gesien. Hulle het egter vinnig in die bosse verdwyn, maar is later weer gesien.

Die Stic-lede kon twee van die rowers met die hulp van die helikopter opspoor en aankeer, waarna die polisie hulle in hegtenis geneem het. Verskeie ambulansdienste, die polisie se honde-eenheid en nooddienste en CPI was ook op die toneel.

Ongelukkig kon geen van die gesteelde wapens en die rowers se eie wapens gekry word nie. Die derde verdagte het ook weggekom. Hoewel die egpaar na die voorval erg geskok was, is hulle gelukkig nie ernstig beseer nie.

 

 

Related Articles

Back to top button