Wiskunde-onnie skop gat met eie boek

Wiskunde-onnie skop gat met eie boek

Wiskunde is so deel van Morné Smit se lewe soos sy asemhaling. Hierdie nasionaal bekroonde wiskunde-onderwyser en akademiese adjunkhoof van Hoër Volkskool Potchefstroom se passie vir wiskunde strek verder as die klaskamer met sy tegnieke en metodes wat in boekformaat beskikbaar is.

Gatskop Wiskunde is ‘n wiskunde boek wat Smit vanaf 2017 neergepen het wat vir graad 10 tot 12-leerlinge ‘n alomvattende vars kyk na meetkunde gee. Dit verduidelik belangrike konsepte van beginner- tot hoër vlak met kleurillustrasies wat wiskunde vir almal aantreklik maak.

Smit het met graad 11 en 12 boeke begin en het onlangs sy graad 10-boek klaar geskryf. Dit word deur Amaniyah Publishers gepubliseer.

Volgens Smit was dit nog altyd ’n ideaal om sy eie wiskunde boeke te skryf.

“Ek sien wiskunde vraestelle nou al vir agt jaar as adjunk- en hoofnasiener na. Ek het agtergekom dat kinders meer met meetkunde sukkel.

Ek het toe besluit om iets nuuts te doen in ‘n wiskunde boek wat veral met kleur en interessante prentjies verduidelik om probleme raak te sien en te identifiseer,” vertel Smit, wat 17 jaar se onderwyservaring agter die rug het.

“Die boek is so geskryf dat ‘n mens met die maklikste konsep begin en dan stelselmatig na die moeiliker konsepte beweeg. Dit is toeganklik vir die onderwyser en die leerlinge,” noem Smit. Hy het in 2014 by Volkies begin skoolhou nadat hy eers by Hoërskool Schoonspruit klasgegee het en toe by Hoërskool Grenswag as departementshoof gedien het.

Volgens Smit het die eerste boek hom sowat ‘n jaar geneem om te skryf, aangesien hy self die somme moes uitdink en gepaardgaande diagramme moes illustreer.

“Kopiereg is ook belangrik, so ek moes self die somme uitdink en ook die diagramme fisies self teken. Ek moes baie presies op skaal en ook kreatief wees,” vertel Smit, wat gedurende vakansies, oor naweke en in die aande aan die boek geskryf het.

Smit het as skoolkind in graad 9 wiskunde gedruip. Nadat hy ‘n nuwe onderwyser gekry het wat hom gehelp het, het sy liefde vir die vak geblom tot waar hy nou een van die top onderwysers in die land is.

“Ek het in graad 9 besef dat ‘n onderwyser ‘n mens kan maak of breek. In die tweede kwartaal was ek terug met ‘n onderskeiding by ‘n ander onderwyser en het in my matriekjaar ‘n onderskeiding behaal,” vertel hy.

Vir Smit is dit belangrik dat sy boek konsepte op ‘n eenvoudige manier aanbied sodat enigiemand ‘n liefde vir wiskunde kan ontwikkel. “”n Kind moet van A na B en B na A kan gaan. As ‘n kind tuisonderrig kry moet hy steeds meetkunde kan doen. Die boublokke is baie belangrik, sowel as om te weet om vir watter struikelblokke uit te kyk,” verduidelik hy.

Smit kyk in sy boek na die belangrikste konsepte waar hy in ‘n wiskundetaal gesels. Akronieme soos “FUN” wys ewewydige lyne uit en illustrasies van krone, papiervliegtuie, strikdasse en so meer word gebruik om spesifieke probleme in meetkundetaal uit te wys.

“Baie mense wil wiskunde te abstrak hou. ‘n Mens kry kinders met ‘n beperkte aanleg vir wiskunde en met ‘n natuurlike aanleg vir wiskunde. Vir my is dit belangrik om kinders met ‘n beperkte aanleg te kan help om elke trappie van wiskunde te kan doen.”

Die oefeninge wat gegee word is ook eksamengerig, wat die kinders uitdaag sodat elke tipe som gedoen kan word.

“Ek probeer om al my ervaring in die boek in te bring rondom hoe somme nagesien word en waar punte verkry en verloor word in toetse. Ons doen probleme, boublokke, oefeninge en dan is daar ou eksamenvraestelle wat kinders ook kan uitwerk. Dit is ‘n omvattende wiskunde handboek wat progressiewe leer aanmoedig,” vertel hy.

“Wiskunde is nie eksklusief nie. ‘n Mens moet altyd die lekker komponente inbring sodat kinders as beter mense uit jou klaskamer kan stap. Hy of sy moet voel dat hulle probleme kan aanvat en regkry op ‘n stelselmatige basis. Dit is ‘n proses en dit help nie dat kinders van die begin af gedemotiveer word met ‘n moeilike som nie,” verduidelik Smit.

“Ek wou ‘n maklike manier kry om wiskunde aan te bied sodat die leerlinge dit begryp. Ek wil steeds my wiskundetalent kan uitleef, al is ek nie meer regstreeks by kinders betrokke nie. Die boek gee vir my die geleentheid om kinders oral in die land met wiskunde te kan help.”

Belangstellendes kan vir Rita Myburgh by Amaniyah Publishers by 074 278 8623 of (014) 592 6083 kontak

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button