Gemeenskap staan bankvas agter skool

Gemeenskap staan bankvas agter skool

 

Min het Shaun Strydom, skoolhoof van Parys Primêr op 21 Maart kon dink dat ‘n gemeenskap so bankvas agter ‘n skool kan staan toe hy die skool se Borg-’n-Bankie projek aangekondig het. Wat nodig was vir die projek, is 600 enkel skoolbanke. In net vyf dae het die gemeenskap van Parys, selfs mense wat nie direkte belang by die skool het nie, hul harte en beursies oopgemaak en is daar teen Vrydag, 26 Maart reeds R41 000 vir die projek ingesamel.

Shaun vertel dat hoewel alles moontlik gedoen is om volgens die departement se riglyne kinders weer op ’n rotasiebasis terug te bring skool toe in lyn met Covid-protokol, het die personeel die behoefte raakgesien by die kinders vir kontaktyd. Daardie daaglikse roetine en geborgenheid wat kinders vroeër gehad het om elke dag te kon skool toe gaan, in die klaskamer te kon wees en hul maats te kon sien.

Die probleem vir die skool was dat daar baie min enkel skoolbanke was. Leerders het oor die jare by selfgemaakte tafels gesit wat 3-4 leerders per tafel kon akkommodeer. Die huidige Covid-protokol vereis dat daar ‘n sitplek moet oop wees tussen leerders by hierdie tafels om genoegsame sosiale afstand te bied.

Gevolglik kan net sowat 20 kinders in ‘n klas geakkommodeer word. Sou daar egter enkel skoolbanke wees, is dit moontlik om steeds met die nodige sosiale afstand tussen 30 en 35 kinders te in ‘n klaskamer te kan akkommodeer. Danksy die borgskappe wat reeds ontvang is, is dit al moontlik om ‘n derde van die banke wat benodig word, te kan koop. Hoewel ‘n skoolbank R304 kos, is met die projek gevra dat mense slegs R200 kon bydra per bank as ‘n borgskap – die oorblywende gedeelte van die bedrag word deur die skool betaal.

Elke borg wat bydra tot die projek se naam sal op ‘n plaatjie verskyn wat op die ‘Dankie sê’ muur teen die dubbelverdieping gebou van die skool in Schilbachstraat aangebring sal word. Die projek is met die goedkeuring van die onderwysdepartement en die skool se beheerliggaam aangepak.

Tans gaan die graad R tot graad 3 leerders elke dag skool omdat hierdie grade nog altyd enkel skoolbanke in die klaskamers gehad het. Danksy die bankie-inisiatief sal graad 4- tot graad 7-leerders van die skool ook na verwagting die geleentheid kan hê om daagliks skool te gaan. Die plan is om dit stelselmatig in te faseer sodat steeds aan die vereiste Covid-protokol voldoen kan word. Die skool sê opreg dankie aan elkeen wat met oop hande bygedra het om hierdie projek te ondersteun. Mense wat graag nog ‘n bydrae wil maak kan die skoolkantoor by (056) 811 3541 skakel  

Related Articles

Back to top button