Home & GardenLifestyle

Tuinpraatjie: Snoei maak plek vir nuwe groei

Tuinpraatjie: Snoei maak plek vir nuwe groei

 

Kom ons kuier nog so ‘n bietjie by herfs. Kom ons leef vir so ‘n rukkie soos herfsblare wat afval asof hul verlief is op die grond! Ek ontmoet daagliks nuwe mense, en byna almal kyk met verbasing na my as ek praat van plante as ‘n ‘hy’ of ‘n ‘sy’. ‘n Plant is tog immers ‘n lewendige wese – net soos ons graag verwys na ons diere as familie – so voel ek oor plante. ‘n Plant, net soos mens en dier, het tog die basiese behoeftes vir liefde, water en kos om voort te bestaan.

En ja, in my wêreld het plante ‘n geslag (buiten die biologiese manlik en vroulik). Gewoonlik is moeilike plante ‘n ‘hy’ en die makliker groeiende, blommende plante ‘n besliste ‘sy’. Wanneer ek oor plante gesels neem my hart oor.

My gesels kom nie uit slim boeke nie, dit kom uit ‘n hart van weet. ‘n Hart wat ‘n eerlike ‘nee’, dit gaan nie werk nie sal spreek, eerder as ‘n gejaag na geld. Ek raak begeesterd oor plante en soms so nostalgies dat ek amper vergeet van die mense om my.

Daar is sentiment en simboliek in elke tuin en elke plant, maar kom ek vertel julle!

Om ‘n ou roosplant of boom te snoei is een van die mees bevredigende dinge om te doen. Dis die afknip van die oud om plek te maak vir die nuwe … om die dooie, krom weg te sny vir nuwe groei. Om die energie van die plant te herfokus op nuut en groei, en om hul te help losmaak van die oud!

Om ‘n week of wat later die nuwe groei te kan sien – vol lewe, grasgroen.   

Die simboliek in ons lewens is voor die handliggend. Snoei sommer in herfs ook aan al die seer dinge in jou lewe. Die lelike dinge wat jou energie en lewensgeluk steel. Sorteer die ou, lewelose uit. Maak jou lewe reg vir winter se koestertyd.

 

Ons moes onlangs afskeid neem van die “matriarg” van ons familie, die mees formidabele vrou ooit. Vir my persoonlik is Maart en herfs ‘n ode aan haar. Nie om van haar te kan vergeet nie – beslis nie, maar om haar te kan sien in elke nuwe groei!

Die grootste les wat ek by haar geleer het was, “om te leef terwyl jy lewe”! Sy het my liefde en passie vir tuin en plant en buitelewe geken, daarom los ek ‘n stukkie van haar in elke tuin en plant wat ek aanraak. “Autumn embraces change, even as she is falling to pieces” – Angie Weiland Crosby

Die gemis sal nooit weggaan nie, maar die vertroosting is in elke wilde kosmos, in elke perfek gevormde roos, en in elke nuwe botsel of groei. Rus in vrede Mamma!

Geniet die laaste paar lang somerdae. Begin dink aan snoei. Die laaste lang, warm aande, omhels jou lewe, jou geliefdes en laat die nuwe groei gebeur!  

Related Articles

Back to top button