Laat hoor jou stem vir Molen Kóres oudisies

Laat hoor jou stem vir Molen Kóres oudisies

 

Na ‘n paar maande se stilte, is dit weer tyd om die stemme te laat hoor vir oudisies vir Potchefstroom se bekende kamerkoor, Molen Kórus – en hulle wil jou stem hoor!
Die koor, onder leiding van die bekwame Kobus Venter en Loretté du Toit, het in 2011 ontstaan toe ‘n groep oud-PUK-koorlede besluit het dat hulle graag nog ‘n platform wou hê om hul sangtalent met plaaslike gehore te deel.
Die koor het toe sy naam gekry by die bekende Molenstraat in die hartjie van Potchefstroom waar die koor weekliks oefen.
Die koor bestaan hoofsaaklik uit nagraadse studente en werkende individue met uiteenlopende belangstellings. Tog het die koorlede almal een ding in gemeen: ‘n liefde vir hoë gehalte koorsang.
Die koor streef daarna om ‘n baie hoë musikale- en tegniese standaard te handhaaf en lede word gekies ten einde hierdie doelwitte te behaal.
Alhoewel Molen Kórus welbekend is onder Potchefstromers, het die koor ook al nasionale en internasionale gehore bekoor met hul unieke klank.
In 2015 is die koor aangewys as die wenners in die kategorie vir Kamerkore, asook as algehele wenners van die ATKV Internasionale Animato koorwedstryd.
Die koor het reeds aan verskeie Aardklopproduksies deelgeneem en het in 2015 ‘n CD-opname met van Awie van Wyk se mees bekende komposisies vrygestel, asook die digter T.T. Cloete se Psalmomdigtings opgeneem vir die klankbaan van sy DVD.
Verder het die koor in 2018 goue toekennings verower in al drie hul kategorieë (ope-kategorie-afdeling) by die Interkulture Wêreldkoorspele in Pretoria. Hulle is ook telkens as kategoriewenners bekroon.
Al is die toekoms van publieke optredes vir 2021 nog onseker, beplan Molen Kórus nogtans om weer die stilte van die afgelope paar maande met goeie koorsang te verbreek.
Die koor vier hierdie jaar sy tiende verjaardag en sien uit daarna om nuwe lede in hierdie historiese jaar te verwelkom.
Indien jy in die Potchefstroom-omgewing woon, ‘n nagraadse student of werkende persoon is, en graag deel van hierdie besonderse koor wil word, maak ‘n oudisie-afspraak en kom wys ons jou talent.
Daar is twee oudisiegeleenthede op 16 en 23 Maart vanaf 18:00. Vir meer inligting en om ‘n oudisie-afspraak te maak, skakel vir Christel by 082 566 4229 of stuur e-pos aan molenkorus@gmail.com.

 

 

Related Articles

Back to top button