Huishoudings veram, maar munisipaliteit eis sy pond vleis

Huishoudings veram, maar munisipaliteit eis sy pond vleis

 

 

Met net enkele dae oor voor die amnestieperiode op 28 Februarie vir inwoners van die Ngwathe munisipaliteit verstryk, waartydens gebruik gemaak kon word van die afbetalingsvergunnings vir agterstallige diensterekeninge, is daar desperate pogings van mense om ooreenkomste met die munisipaliteit te probeer aangaan.
In die huidige ekonomiese klimaat verarm mense teen ’n angswekkende tempo, ook in die Ngwathe dorpe (Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville), en is daar nie meer die huishoudelike inkomste om enorme skuldafbetalingsooreenkomste te kan eerbiedig nie.
Raadslede in Parys kry daagliks te doen met die hartseer van verbruikers wat erken dat hul rekenings agterstallig is, en bereid is om ooreenkomste aan te gaan, maar vir wie die terme van betaling nie haalbaar is nie.
Die effek is dat mense se krag afgesny word en die reeds sukkelende munisipaliteit nog meer van sy potensiële betalers verloor.
Wat behels die amnestie?
Met die amnestieperiode is mense met agterstallige rekenings die geleentheid gegee dat die helfte van so ’n verbruiker se agterstallige diensterekening op versoek afgeskryf word mits die oorblywende helfte onmiddellik betaal word. Die maandelikse diensterekening van so ‘n verbruiker moet dan ook voortaan nougeset en ten volle gedurende die daaropvolgende twaalf maande betaal word. Sou dit nie gedoen word nie, verval die voorwaardelike afskrywing, en is die agterstallige skuld weer ten volle verskuldig.
As iemand die helfte van die skuld nie op een slag kan betaal nie, is die alternatief dat versoek kon word dat die helfte van die diensteskuld wat ouer is as twee jaar, afgeskryf word. Daar moet dan ooreengekom word om die totale agterstallige diensteskuld (d.w.s die oorblywende helfte ouer as twee jaar, plus die agterstallige diensteskuld jonger as twee jaar) in 24 gelyke maandelikse paaiemente afbetaal word.
Weer eens moet onderneem word om die maandelikse lopende rekening stiptelik en ten volle te betaal tydens die daaropvolgende 12 maande.
Solank die afbetalingsooreenkoms nagekom word, is geen rente op die agterstallige bedrag betaalbaar nie. Sou die verbruiker enige voorwaardes verbreek, word die afskrywing gekanselleer en moet die skuld en rente weer ten volle betaal word.
Die amnestieperiode is vroeër tot 28 Februarie vanjaar verleng.
Ngwathe self is desperaat vir ‘n inkomste met sy skuld aan Eskom wat die afgelope kalenderjaar toegeneem het. Dit omdat ook die munisipaliteit noustrop trek en daar vir té lank versuim is om doeltreffend teen wanbetalers en kragdiefstal op te tree. Raadslede meen Ngwathe het self die krisis onder sy verbruikers geskep deur nie vroeër op te tree nie.
Vir baie Parysenaars het hul ekonomiese situasie so versleg oor die afgelope jaar weens die uitwerking van die Covid-19 pandemie op inkomste en werksgeleenthede, dat al meer mense, ook hulle wat vroeër meer gegoed was, nou kwalifiseer vir die sogenaamde “hulpbehoewende” vergunnings van die munisipaliteit.
Tog wil dit lyk uit rekeninghouers se terugvoer asof daar nie veel simpatie by munisipale amptenare is vir mense wie se rekenings agterstallig is nie.
Wanneer kredietooreenkomste normaalweg aangegaan word, word gekyk na die bekostigbaarheid van die afbetalingsooreenkoms.
Die munisipale beleid en bywette, (teenstrydig met die huidige beleid) ‎maak wel daarvoor voorsiening dat bekostigbaarheid en rekeninghouers se spesifieke omstandighede in ag geneem kan word om meer buigbare betalingsplanne te beding, maar dit word nie in praktyk gesien nie.
Desperate rekeninghouers gaan betalingsooreenkomste aan wat hulle gewoon nie kan bekostig nie.
In heelwat van hierdie gevalle gaan rekeninghouers spoedig nie ooreengekome betalings kan bybring nie, en sal munisipale inkomste maar weer onder druk wees.
Ongelukkig is ook raadslede se hande afgekap in die onderhandeling oor agterstallige skuld tussen die rekeninghouer en die munisipaliteit omdat die munisipale struktuur wetgewing regstreekse toetrede deur raadslede verbied.
Hoewel baie raadslede ure se moeite en tyd insit om rekeninghouers te help met hul rekeninge, bly dit nog die rekeninghouer self wat moet gaan onderhandel. Veral ook huurders in eiendom waar die regmatige eienaar agterstallig geraak het met die diensterekening aan die munisipaliteit trek sleg aan die kortste end,
Krag word afgesny sonder ’n geleentheid om as huurder jou saak te kan stel.
Raadslede se voorstel is dat die munisipaliteit eerder private huishoudings wat werklik nie kan bekostig om agterstallige skuld te betaal, moet kry om hul lopende rekening getrou te betaal, en so steeds ‘n inkomste te verseker, eerder as om kragtoevoer te sny, met geen hoop om die agterstallige of lopende rekeningskuld te in nie.

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button