Atlete kry weer nuwe asem vir 2021

Atlete kry weer nuwe asem vir 2021

 

 

Daar is groot herlewing en hoop vir die atletiekgemeenskap sedert Atletiek Suid-Afrika (ASA) se aankondiging dat atletiek weer op 6 Februarie hervat kon word. Atletiek is ’n oorhoofse afdeling van sport wat hoofsaaklik padwedlope, baan en veld, landloop, en veldwedlope insluit.
Stadions en sportgronde bly streng beperk onder huidige ASA en Covid-regulasies en wetgewing, maar ‘n groot meerderheid van atlete en afrigters wend hulle tot die strate, parke, en bospaadjies in en om Parys ter voorbereiding van die 2021 atletiekseisoen. “Dit lyk of die Parys-gemeenskap begrip het vir ons atlete se uitdagings en tekort aan fasiliteite op die oomblik. Dit is inspirerend om atlete en hul afrigters oral te sien oefen. Parysenaars kry met tye die geleentheid om die atlete in aksie te sien en die meeste van ons motoriste gee nie om as hulle so ‘n bietjie wyer moet draai om vir ons plek te maak nie,” sê Pierre Fourie, voorsitter en afrigter van Parys Multisport.
Met die aanvang van die grendeltydperk in 2020 is deelname aan atletiek heeltemal gestaak en atlete was met tye streng beperk om alleen te oefen met een oog op die pad en die ander op die aandklok.

Streng reëls en regulasies vir atletiek en afrigters bly steeds van krag, maar ingevolge die hersiening en aanpassing van regulasies en wetgewing, kan gelisensieerde atlete wat voorberei vir kompetisies weer daarna uitsien om mee te ding.

Suid-Afrika Skole Atletiek (SASA) het egter met die aanvang van 2021 aangekondig dat daar ‘n verbod geplaas is op die aanbieding van byeenkomste, werkswinkels, en oefensessies op sportgronde en terreine van skole. Hierdie verbod was ten tye van die plasing van hierdie berig nog van krag. Met inagneming van die uitdagings wat hiermee gepaard gaan het die provinsiale unies van ASA begin hande vat om erkende atletiekbyeenkomste aan te bied wat ons skoolatlete insluit. Gevolglik word skoolatlete en skole aangemoedig om die ASA en Atletiek Vrystaat (AFS) kalender van gebeure te volg vir die 2021-atletiekseisoen. Die 2021-seisoen beloof ‘n nuwe formaat vir die aanbieding van atletiekbyeenkomste wat vanselfsprekend gepaard gaan met nog uitdagings.
Atletiekklubs word daarom aangemoedig om ondersteuning te bied aan skole. Dit word van skole verlang om as junior atlietkklubs te registreer by hulle provinsiale unies. Atelete moet affilieer by hulle onderskeie geaffilieerde klubs of skole (junior klubs), en afrigters moet geaffilieer wees om sodoende afrigting aan te bied en toegang te kry tot byeenkomste waar afrigters wel toeglaat word.

Ter wille van die veiligheid en gesondheid van ons atlete, beamptes, personeel, afrigters en familielede wat direk of indirek kontak het met mekaar, moet daar noodgedwonge ‘n nuwe en objektiewe perspektief ten opsigte van sport gekweek word,” sê Pierre.

“Sodoende verseker ons nie net atlete se deelname aan atletiek nie, maar ook die vooruitgang, ontwikkeling, groei, en deelname aan sport wat ongetwyfeld bydra tot ‘n gesonder gemeenskap.

“Ten spyte van al die uitdagings wat voorlê sal ons in 2021 weer die geleentheid kry om erkenning en eer aan ons sportsterre te gee.”
Parys Multisport doen ‘n beroep op atlete, skoolatlete en skole wat vanjaar aan atletiek wil deelneem, om Parys Multisport of Atletiek Vrystaat direk te skakel vir navrae en ondersteuning. Die nommer om te skakel is (056) 817 1465, of stuur ‘n e-pos na info@parysmultisport.co.za.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version