Pasop vir motorkapers in die Noordwes

Pasop vir motorkapers in die Noordwes

Na verskeie voorvalle waarin motoriste deur onbekende verdagtes gekaap is, het die polisie ‘n waarskuwing uitgereik aan motoriste wat in die Noordwes Provinsie, veral in die Bojanala Platinum-distrik reis.

  Na verskeie voorvalle waarin motoriste deur onbekende verdagtes gekaap is, het die polisie ‘n waarskuwing uitgereik aan motoriste wat in die Noordwes Provinsie, veral in die Bojanala Platinum-distrik reis. Kol. Adéle Myburgh, mediawoordvoerder van die polisie in die Noordwes, sê reisigers moet veral versigtig wees wanneer hulle langs die pad stop of deur ander motoriste gevra word om te stop.

In een van die voorvalle het ‘n slagoffer (40) Maandag, 16 November om 21:15 in Tlhabane gestop om ‘n persoon in Mokgethistraat op te laai. Hy het voor die hek parkeer en uitgeklim toe ’n aanvaller ’n vuurwapen op hom rig. Hy is beveel om weer terug in sy motor te klim. Gelukkig het hy daarin geslaag om weg te hardloop, waarna twee verdagtes met sy blou Volkswagen Polo weggery het. In nog ‘n voorval Woensdag, 18 November het ’n slagoffer (44) in sy Nissan NP 200 bakkie op die N4 gery toe ‘n Hyundai i20 om 09:20 naby Swartruggens hom van agter ingehaal het. Hy het na bewering na die skouer van die pad toe beweeg om vir die Hyundai toestemming te gee om hom verby te steek, toe een van die insittendes in die Hyundai ’n vuurwapen op hom gerig het en hom beveel het om te stop. Twee mans het saam met die slagoffer in sy bakkie geklim en na die naaste kragstasie gery. Hulle het bokse selfone by hom gesteel en hom agter in sy bakkie se kap (canopy) toegesluit voordat hulle gevlug het.

 

In nog ‘n voorval Sondag, 22 November het ‘n bestuurder van ‘n Toyota Verso en sy meisie vier rylopers by Bothaville opgelaai. Hulle het gery tot by die Ysterspruit-pad in Jouberton toe ‘n swart Volkswagen Polo skielik voor die Toyota gestop het. Die vier rylopers het messe uitgehaal en gedreig om die bestuurder aan te val. Die slagoffer en sy meisie is daarna vasgebind en van hulle kontant en selfone beroof voordat hulle met sy motor weggery het. Motoriste word gewaarsku om versigtig te wees wanneer hulle deur onbekende persone gestop word en enige voorvalle by die naaste polisiestasie aan te meld. Kol. Myburgh sê indien polisie of verkeersbeamptes motoriste stop en hulle voel onveilig of bedreig, moet hulle hul noodligte aanskakel en stadig na die naaste polisiestasie ry.

 

Sy waarsku verder om nooit ’n saamrygeleentheid aan ’n ryloper aan te bied nie en nooit langs die pad te stop, tensy dit ’n noodgeval is nie. Mense wat stop om hulle nood te verlig is dikwels ook ’n teiken.    

Related Articles

Back to top button