Oop harte vir ander se nood

Oop harte vir ander se nood

 

 

PARYS. – Hierdie foto laat jou dalk dink aan die prente in kinderverhale van Kersvader en sy elfies aan die werk om kinderharte bly te maak. En dit is inderdaad wat hierdie week gedoen is! Dit was die ene bedrywigheid soos daar op die stoep van La Vie & Rose gewerk is om 25 dogters tussen 12 en 18 jaar kort voor Kersfees te bederf.   Tienerdogters wat andersins nie die luukse van hierdie bederf sou hê nie. Sakevroue van Parys wat deel is van die organisasie, We do deals in Heels, het die projek aangepak om ook op hierdie manier te kon uitreik na tienermeisies in gesinne in nood na wie die Red Ribbon-organisasie steeds tot einde 2020 omsien. Dié organisasie het sy ontstaan tydens grendeltyd gehad toe baie gesinne in Parys swaar getref is weens die impak van werkloosheid en ‘n kwynende inkomste weens die ekonomiese gevolge van inperkingsregulasies.  

Die organisasie moes aanvanklik na tot 1 700 mense in 540 gesinne omsien en kom dié projek nou einde Desember ten einde. Die sakevroue het ongekende steun van die gemeenskap gekry om in van die mees basiese persoonlike benodigdhede tot ’n bietjie bederf vir hierdie tienerdogters te kon voorsien. Oop harte en hande wat eenvoudig net gegee het om ook ’n verskil vir ander te kon maak. Dankie aan elkeen wat op watter manier ook al tot die projek bygedra het.      

Woensdag, 9 Desember is 53 kinders en 23 mammas van gesinne wat andersins nie die voorreg sou gehad het nie, ook met ’n Kersboom by Dimalechite bederf. Wie sê Kersvader kan nie ook in grendeltyd die spreekwoordelike haas uit die hoed trek om op ‘n ongewone manier sy opwagting te maak nie? Danksy CSS het die man in rooi met ’n helikopter by die Kerspartytjie opgedaag waar elke kind met ‘n geskenk en kuieroggend langs die rivier bederf is.

Dankie vir elkeen wat hier bygedra het vir die geskenkpakkies, eetgoed en poppekas. Sonder elke instansie en individu sou hierdie mooi uitreik nie moontlik kon wees nie.    

 

 

Related Articles

Back to top button