Slagpalemoord: Drie skuldig bevind, een vlug

Slagpalemoord: Drie skuldig bevind, een vlug

Geregtigheid het Dinsdag, 22 September in die rondgaande hof in Klerksdorp geskied toe drie van wyle Koos van der Leeuw (68) se moordenaars aan sy moord skuldig bevind is.

 

Geregtigheid het Dinsdag, 22 September in die rondgaande hof in Klerksdorp geskied toe drie van wyle Koos van der Leeuw (68) se moordenaars aan sy moord skuldig bevind is. Dit nadat die saak al meer as vier jaar sloer. Twee van die beskuldigdes wat aanvanklik borgtog toegestaan is, was om die beurt gereeld siek en een van die beskuldigdes se regsverteenwoordigers is in 2018 oorlede. Dit het die saak nog verder vertraag. Bibi Ngcamphalala, Idah Lebaka en Samuel Motsi is al drie aan moord, asook twee aanklagte van gewapende roof skuldig bevind. Die vierde beskuldigde, Tefo Mohau, het nie Dinsdag vir die uitspraak by die hof opgedaag nie en ’n lasbrief vir sy inhegtenisname is uitgereik. Van der Leeuw is in Augustus 2015 vroegoggend tydens ’n rooftog by die slagpale in Potchefstroom geskiet. Hy is later in die hospitaal dood. Maj. Pelonomi Makau, polisiewoordvoerder, het destyds aan die Herald gesê vier verdagtes in ’n blou Subaru sonder nommerplate het Van der Leeuw en Jaco de Villiers genader nadat hulle ’n transaksie by die Potchefstroom slagpale afgehandel het. De Villiers is op die grond vasgedruk terwyl die verdagtes hom van kontant en sy selfoon beroof het. Karel van der Leeuw het vertel sy pa het uitgespring om te help, waarna hy geskiet is. Hy kon daarin slaag om een van die rowers te skiet wat later dood is. Sy vrou Marietjie (nou 72) het tydens die skietery plat geval en is nie beseer nie. “Hy was ’n held en hy het ’n held gesterf. Hy het twee mense se lewens gered toe hy uitgespring het om hulle te help,” het Karel in 2015 aan die Herald vertel.

 
Oom Koos, wat deur rowers dood geskiet is.

Die polisie het die ander twee rowers wat betrokke was, kort na die slagpalemoord tydens ‘n rooftog in Sandton doodgeskiet. Van der Leeuw se vuurwapen is by hulle gevind. Regter Steph Bezuidenhout het bevind dat hoewel die drie beskuldigdes nie op die toneel was nie, hulle net so skuldig is omdat hulle die roof saam beplan het. Samuel Motsi wat ten tyde van die roof by die slagpale gewerk het was tuis, terwyl Bibi Ngcamphalala en Idah Lebaka in ’n wegkommotor gewag het. Netwerk24 berig dat Karel van der Leeuw so oorstelp was oor die uitspraak dat hy die staatsadvokaat, Kobus Jacobs en ondersoekbeampte, ao. Bonita Dry, in die hof omhels het. * Die drie word op 4 November gevonnis.

Related Articles

Back to top button