Ligte-leesstof: O, die liewe krag!

Ligte-leesstof: O, die liewe krag

Ek onthou goed hoe ek daardie Donderdagaand net so wou wegraak in droomland, toe ek skielik hoor: “Vra vir Gerda. Ek is nou papnat.” Ma en Pa is albei in die badkamer doenig en so tussen droom en wakker wonder ek wat het ek nou weer gesondig, maar ek doen nie eens moeite om my oë oop te maak nie.

 

  “Gerda, gaan kry gou vir ons ‘n kers in die kombuis,” hoor ek Ma benoud roep. Ek maak my oë oop en sien absoluut niks. Totale duisternis. Die krag is af. Gelukkig is ek mos verslaaf aan my selfoon, so ek weet ten alle tye presies waar ek hom neergesit het. Selfoon se flits word ingespan vir my tog kombuis toe. Baba Bessie en Her Royal Naughtyness Heidi (die twee pekinese) al om my voete, totaal uit hul kassies uit oor hierdie nuwe donker. Monster Nooi, die oorgroot labrador aan die anderkant, dink nie dis ‘n goeie idee dat ek nou so in die duisternis wil ronddwaal nie, en sy bly al voor my inloop om my af te keer.

 

Intussen staan Ma in die badkamerdeur. “Het jy nou al die kers?” Ek steek die eerste kers aan, nogal ‘n rooie en dink Ma kan nou by kerslig bad. Dis mos romanties. Moenie glo nie. Ek was net weer in die bed, toe hoor ek haar nog kla oor die gebrek aan elektrisiteit. Druk my kop dieper onder die duvet in. Waar was ek nou weer? O ja, op pad droomland toe… mmmm mooi plek en wie staan daar onder die boom? “Gerdatjie, wil jy ook ‘n kers hê?” ruk Pa se stem my terug werklikheid toe. Hy het intussen klaar gestort en loop nou met ‘n kers in die gang rond. Hoekom sal net hy weet. “Ek het nie nou ‘n kers nodig nie. Ek gaan slaap,” antwoord ek hom. “Ma, Gerda sê sy het nie ‘n kers nodig nie!” bulder Pa in die badkamer se rigting. “Sy sê sy gaan nou slaap.” Voor ek finaal droomland invaar, dink ek, miskien moet ek belê in oorpluisies. ‘n Mens het dit nodig in hierdie huis…

Gerda Bruinette

https://vaalweekblad.com/74132/ligte-leesstof-oh-die-liewe-krag/

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button