Samewerking maar min, meen Parysenaars

NIe almal luister nie

Meeste Parysenaars met wie Gazette die afgelope week gesels het oor hoe hulle die  3 weke se inperking beleef het, het gevoel dat mense beslis nie die erns van die inperking besef nie, en ook nie saamwerk nie.

Rylopers word steeds langs die strate gesien, sommige ‘motorwagte’ staan steeds op parkeerruimtes en in strate, mense sit op sypaadjies en drom saam voor die kliniek sonder enige teken van “social distancing”. Ook by banke is dieselfde ervaring – daar is steeds té veel mense wat hulle nie steur aan  regulasies nie.

Daar is beslis té veel beweging in die strate is, en mense is bekommerd oor families wat saam-saam doodluiters gaan inkopies doen en krag koop, kinders wat in groepe of alleen in die strate beweeg of op kafeestoepe sit, mense wat op taxi-staanplekke rondstaan, en die vele verskonings om dag vir dag “‘n bietjie dorp toe te gaan”.

Mense raak verveeld en nie almal was entoesiasties oor die tyd wat hulle nou by die huis kan deurbring nie.

Daar was heelwat ouers wat bekommerd was oor hoe dit sal werk wanneer skole heropen, mense wat angstig was omdat hulle nie inkomste kan verdien nie, en bitter is oor die onregverdigheid van sekere besighede wat sake doen en die reëls buig soos dit hulle pas, terwyl ander nog geen vooruitsig het om hul deure oop te maak nie.

Oor die kwessies van maskers en handskoene dra, blyk mense ook verdeeld te wees oor wat reg en wat verkeerd is. Sommige waag dit nie by die deur uit sonder ‘n masker nie. Ander sien geen nut daarin nie , en dan is daar talle wat met die masker halfmas onder die ken loop – goed vir die gewete, maar van geen waarde as dit kom by beskerming nie.

Hoe dit ookal sy, is dit verstommend om te hoor by hoeveel daar nog onkunde en totale ontkenning van die Covid-19 pandemie is. Nie alle Paryenaars was seker waarom “screening” gedoen word nie, wanneer mense getoets sal word vir die virus, of selfs watter nommers om te skakel wanneer jy vermoed dat jy die virus het nie.

Suid-Afrika het tans 2 605 bevestigde gevalle van Covid-19 en 48 wat weens die virus gesterf het. Daar het in SA nou al 903 mense van die virus herstel.

Related Articles

Back to top button