HealthLifestyle

Griep (Influenza) en vaksinering: Wat jy moet weet

Griep, ook genoem Influenza, is ‘n virale lugweginfeksie wat tipies tydens die wintermaande voorkom. Griep word veroorsaak deur die Influenza-virus waarvan daar drie serotipes is, maar dit is slegs Influenza A en B wat epidemies in mense veroorsaak. Na beraming is daar sowat 11 800 Influenza-verwante sterftes in Suid-Afrika per jaar, waarvan 5% jonger as …

Griep, ook genoem Influenza, is ‘n virale lugweginfeksie wat tipies tydens die wintermaande voorkom. Griep word veroorsaak deur die Influenza-virus waarvan daar drie serotipes is, maar dit is slegs Influenza A en B wat epidemies in mense veroorsaak.
Na beraming is daar sowat 11 800 Influenza-verwante sterftes in Suid-Afrika per jaar, waarvan 5% jonger as 5 jaar is.

Die virus versprei respiratories (met hoes en nies) en deur besmette hande en oppervlaktes.
Simptome van griep sluit in koors en koue koors, hoes, seer keel, toe neus, hoofpyn, moegheid, spier- en gewrigspyne en selfs diarree. Dit is belangrik dat griep onderskei moet word van die gewone verkoue waar die simptoomkompleks ligter is en hoë koors en koue koors nie deel van is nie.
Die meeste geïnfekteerdes herstel sonder komplikasies met bedrus, voldoende hidrasie en simptomatiese behandeling van die koors, pyn ensovoorts.
Aktiewe behandeling met anti-virale medikasie (Oseltamivir en Zanamivir) is gewoonlik nie nodig nie en die voorskryf hiervan berus op die kliniese oordeel van die dokter, in ag genome die pasiënt se ouderdom en onderliggende mediese toestande, sowel as die ernstigheid van die siekte. Antibiotika het geen rol te speel in die behandeling van griep nie, aangesien dit ‘n virusinfeksie is.

Voorkomingsmaatreëls sluit in vaksinering (inenting) asook die vermyding van kontak met geïnfekteerdes.
Geïnfekteerdes moet tuisbly tot die simptome opgeklaar het (en moet ten minste 24 uur koorsvry wees), hoë risiko persone vermy, nabye kontak byvoorbeeld soen vermy, mond en neus toe hou as hoes en nies, gereeld hande was en besoekers beperk.
Die entstof teen griep is ontwerp om te beskerm teen die Influenza-virusse wat die betrokke seisoen prevalent gaan wees.
Griepvirusse verander (muteer) die hele tyd en daarom word die vaksien-samestelling elke jaar hersien en opdateer, gebaseer op watter virusse mense siek maak, hoe vinnig dit versprei en hoe effektief die vorige seisoen se vaksien was.
Tradisioneel word gevaksineer teen 2 Influenza A en 1 Influenza B virus (trivalente entstof).
Hierdie jaar is daar ook ‘n quadrivalente entstof beskikbaar wat ‘n tweede Infuenza B virus insluit.

Daar is volgens die CDC en NICD nie ‘n spesifieke voorkeur tussen die twee nie, maar dit spreek vanself dat die quadrivalente entstof waarskynlik beter is aangesien dit breër beskerming bied.
Indikasies vir vaksinering sluit in swanger vroue, HIV-positiewe persone, ouer as 65 jaar en ook persone met ‘n hoë risiko, byvoorbeeld onderliggende hart-, long- of niersiekte asook diabetes mellitus en immuniteitgebrek.
Ander indikasies is byvoorbeeld gesondheidswerkers en mense wat kontak met hoë risiko persone het, maar dit staan enige persoon vry om gevaksineer te word, aangesien dit bou aan gemeenskapsimmuniteit.
Kontraïndikasies vir vaksinering sluit in jonger as 6 maande en ‘n geskiedenis van ‘n allergiese reaksie teen die entstof of lewensbedreigende eierproteïenallergie. Almal ouer as 9 jaar kry net 1 dosis (0,5ml) van die vaksien, 3-8 jaar kry die volwasse hoeveelheid en onder 3 kry die helfte; 1 of 2 dosisse afhangend of die kind in die verlede ‘n inenting gehad het.

Indien vaksinasie te vroeg gedoen word, is daar verlaagde beskerming teen griep tydens die griepseisoen, veral by ouer volwassenes.
Daarom is die aanbeveling deur die NICD einde April in Suid-Afrika.
Vir meer inligting kontak jou huisdokter of verwys na die NICD by www.nicd.co.za

Related Articles

Back to top button