Sponsored

Ontmoet Mnr Herman Malan van Hoërskool Parys

Baie dankie aan Mnr Herman Malan vir u passie vir onderwys en vir die toegewydheid waarmee u sorg dat ons kinders in Parys top akademiese onderrig ontvang. Ons waardeer dit opreg.

Waar kom jy oorspronklik vandaan?

Gebore in die Suid-Vrystaat en getoeë in Bloemfontein.  Matrikuleer in 1979 aan Hoërskool Sand du Plessis.

Waar het jy jou studies voltooi?

Universiteit van die Vrystaat waar ek ‘n Hoër Onderwys diploma behaal na afloop van my akademiese BSc. kwalifikasie met Plantkunde en Dierkunde as hoofvakke.  Akademiese kwalifikasies sluit ook o.a. Wiskunde, Chemie, Fisika, Mikrobiologie, Genetika, Biochemie en Sielkunde in.

Wanneer het jy by Hoërskool Parys begin?

Sluit aan die einde van 1988 by Hoërskool Parys aan.  Ek het egter ‘n 6 jaar onderbreking gehad waartydens ek ‘n senior bestuurspos in die korporatiewe handelwêreld beklee het.  Die ondervinding en kennis wat ek daar opgedoen het, is vandag van onskatbare waarde vir die uitdagings in die nuwe onderwys bedeling.

Watter vak bied jy aan?

Ek bied tans Lewenswetenskappe vir grade 11 en 12 aan.  Ek is die Adjunk-Hoofnasiener van die vak in die Vrystaat en speel ‘n leidende rol in die ontwikkeling van die vak se assessering asook onderwysers se ontwikkeling in die Provinsie.

Waarom het jy besluit om ‘n onderwyser te word?

Ek het nie onderwys gekies nie, die Here het my in die onderwys geplaas.  Dit is ‘n roeping, nie slegs ‘n beroep nie.

Waarom Lewenswetenskappe?

Bios Logos beteken “die studie van lewe”.  Dit is waarskynlik die mees dinamiese en mees interessante studieveld wat bestaan.  Anders as mensgemaakte wetenskappe, betaan die vak en sy inhoud reeds sedert die Skepping.

Wat geniet jy die meeste van onderwyser wees?

Die invloed wat ‘n mens as onderwyser op leerlinge as jong ontwikkelende individue se toekoms het, kan nie genoeg beklemtoon word nie.  Dit is ‘n voorreg en ‘n groot verantwoordelikheid om elke leerling te help om tot hul volle potensiaal te ontwikkel en om die beste produk aan die samelewing te lewer.

Hoe sal jy jou onderwysstyl beskryf in drie woorde?

Regverdig, energiek en passievol.

Wat maak Parys anders? 

Die uniekheid van Hoërskool Parys lê in al die rolspelers wat oor ‘n wye spektrum die geleenthede bied vir enige gewillige kind om sy/haar maksimum potensiaal te kan bereik.  Personeel is akademies hoogs gekwalifiseerd in elke vakrigting. Sport-  en kultuur afrigting is professioneel en van hoogstaande gehalte terwyl die bestuur van die skool, met bykans 100 jaar se gesamentlike ervaring in skoolbestuur, die dinamika en behoeftes van die skool en die gemeenskap ken en verstaan.

Wat wil jy hê leerlinge moet wegvat nadat hulle ‘n jaar by jou in die klas spandeer het?

Feite sal altyd opgeteken bly in skryfstukke. Wat ek dus die graagste wil sien gebeur is dat leerlinge vaardighede sal aanleer en ontwikkel wat hulle sal bemagtig om in alle situasies met selfvertroue en selfrespek te kan optree.   Daar is ‘n ou Chinese spreekwoord wat se: “Gee ‘n man ‘n vis en jy voed hom vir die dag, maar leer hom hoe om vis te vang, en jy gee hom ‘n maaltyd vir die res van sy lewe”.

Suum Quique – Aan elkeen wat hom toekom.

 

Baie dankie aan Mnr Herman Malan vir u passie vir onderwys en vir die toegewydheid waarmee u sorg dat ons kinders in Parys top akademiese onderrig ontvang. Ons waardeer dit opreg.

                            HOëRKSOOL PARYS OPEDAG   – 25 JULIE 2019

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button