Moeilike tye lê voor vir Suid-Afrikaners

– verbruikers gaan die duur prys betaal sodat land se ekonomie nie in duie stort, staatskoffers is leeg!

NETWERK24 & SAUK.CO.ZA

Dit gaan nog aansienlik moeiliker raak voordat daar selfs net “’n kans op ’n liggie aan die einde van die tonnel is”, sê Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group.

In ’n verklaring wat Debt Rescue Vrydag uitgereik het, sê Roodt dat feitlik al die ekonomiese aanwysers wat hulle volg, dui op bitter moeilike tye wat voorlê.

“Met Eskom se skuld wat nou naby R500 miljard staan en die nutsmaatskappy wat sukkel om genoeg krag te verkoop om sy koste te dek, gaan dit uiteindelik van die verbruikers afhang om op te dok sodat die land se ekonomie nie in duie stort nie,” sê hy.

Met nog talle laste op pad en die staatskoffers wat leeg is, is die verbruikers wat nou sake moet red ook reeds platsak.

Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuldberadingsfirma Debt Rescue, sê hy sien elke dag nuwe rekordgetal mense wat kom aanklop om onder skuldbestuur geplaas te word.

Volgens hom sal die petrolprys waarskynlik voor Oktober/November R20 per liter bereik, waarna dit weer ietwat kan stabiliseer.

Roodt sê die heffing van nuwe belastings gaan ook die brandstofprys beduidend beïnvloed. Hy sê 53% van die prys van brandstof bestaan reeds uit belasting, en dat die heffing van, onder meer, die nuwe koolstoftaks in Junie ’n bykomende 9c en 12c per liter tot die prys van onderskeidelik petrol en diesel gaan bydra.

“Behalwe dat dié prysstygings die lewe vir alle motoriste regstreeks gaan bemoeilik, gaan dit ook ’n wye invloed op alle verbruikers hê aangesien die meeste goedere plaaslik met vragmotors vervoer word,” sê Roets.

“In die meeste gevalle is mense se begrotings reeds tot so ver gerek as wat dit kan, en dit is moeilik om te sien waar die geld vandaan gaan kom om die volgende ronde algemene prysstygings weens die hoër brandstofpryse te hanteer.

Dit is waarskynlik dat daar ’n bitter moeilike tyd op ons wag.

Neil Roets

“Die meeste verbruikers het reeds ’n geruime tyd gelede luukse goedere en dienste uit hul begrotings gesny, en sal nou moet begin sny aan hul basiese behoeftes net om aan die lewe te bly,” sê Roets.

Debt Rescue wys daarop dat bruto verbruikerskuld op sowat R1 730 miljard staan en dat staatskuld reeds in 2016-’17 op R2 200 miljard gestaan het.

Bykans die helfte van alle verbruikers is tans drie maande of meer agterstallig met die paaiemente op hul skuld.

“Dit is waarskynlik dat daar ’n bitter moeilike tyd op ons wag,” waarsku Roets.

Netwerk 24
Hierdie berig weerspieël nie noodwendig die mening van SAUK-nuus nie.

Lees oorspronklike berig hier:

Related Articles

Back to top button