Alles wat jy van die griep-inspuiting moet weet

Alles wat jy van die griep-inspuiting moet weet

Met die winter wat op pad is, is griep ook om die draai. Loopneuse, seer kele en hoofpyne is ‘n algemene ding die tyd van die jaar.

Dit is griep-seisoen en volgens dr. Darren Green van MediRite is dit beter om stappe te neem voor jy siek word. ‘n Jaarlikse griep-inspuiting kan jou kanse om griep te kry drasties verlaag en ook die simptome wanneer jy wel griep kry minder ernstig maak.

 

 Dr. Green antwoord ‘n paar algemene vrae oor die griep-inspuiting:

1. Wanneer moet ek die inspuiting kry?

Die beste tyd om die inspuiting te kry is tydens herfs (tussen April en Mei), voor die griep-seisoen aanbreek. ‘n Griep-inspuiting neem gewoonlik tot en met twee weke om effektief te werk.

2. Wie moet ‘n griep-inspuiting kry?

Die griep-inspuiting word veral aanbeveel vir:

  • mense ouer as 65 jaar
  • kinders tussen die ouderdom van 6 maande en 5 jaar
  • kinders tussen die ouderdom van 6 maande en 18 jaar wat op langtermyn aspirien-terapie is
  • swanger vroue
  • mense met ernstige mediese toestande soos hart-, long- of niersiektes
  • mense in ouetehuise of rehabilitasiesentrums
  • gesondheidswerkers of maatskaplike werkers wat met pasiënte werk

3. Is daar enige newe-effekte?

Die griep-inspuiting kan, soos enige medikasie, newe-effekte inhou. Dit sluit in:

  • pyn, swelling en rooi vel waar die liggaam ingespuit is
  • hoofpyn of spierpyn
  • lomerigheid of moegheid
  • ongesteldheid

4. Hoe effektief is die griep-inspuiting?

Geen entstof is 100% effektief nie maar die griep-inspuiting is die beste medisyne om griep te voorkom of beveg.

5. Moet ek elke jaar ‘n griep-inspuiting kry?

Dit is beter om elke jaar die griep-inspuiting te kry aangesien die virusse wat griep veroorsaak heeltyd verander. Elke jaar se inspuiting word gemaak om die virusse wat daardie jaar moontlik griep kan veroorsaak te beveg, en is nie elke jaar dieselfde nie.

 

Besoek jou naaste apteek vir ‘n griep-inspuiting.

Exit mobile version