Lifestyle

Plant jou eie groente só die lente

Plant jou eie groente só die lente

Van die groente wat Cecilia Marais van Fresh Pick self geplant en oes het.

Lente is hier en ek dink nie daar is mense wat meer opgewonde is wanneer die eerste lentebloeisels hulle gesiggies wys, as tuinliefhebbers van alle soorte nie.
Die warmer weer is vir elke groenteboer ’n vreugde en beteken nuwe saailinge kan geplant word of saad kan gesaai word. Om self te plant verseker nie net die bekostigbaarheid van jou produk nie, maar ook die varsheid en raklewe daarvan.


Menige dieetkundiges sal saamstem dat ’n vars wortel baie meer voedingswaarde het as een wat op die rak onder ’n lig gelê het.
So opgewonde as wat jy gaan wees oor die begin van jou nuwe groentetuin die lente, so moet jy ook besef dat dit harde werk, aandag en deursettingsvermoë verg. Vanaf ’n saadjie tot ’n vrug neem gemiddeld drie maande en daarom is dit ’n groot bederf om saailinge by plantverskaffers te kan aankoop. So spaar jy beslis tyd. Vir die wat die genot put uit ’n ontkiemende saadjie, gaan dit dus net bietjie langer neem, maar die vreugde is net so groot.
Die wisselvallige klimaat veroorsaak dat ons Potchefstromers nog goed vasbyt tot in September voor die laaste koue die vlug neem. Dan moet ons ook in ag neem dat haelstorms nie ongeken is nie en ’n goeie oplossing daarvoor is om jou nuwe plantjies vir eers onder ’n net of in ’n klein tonnel te beskerm. Daar is soveel oulike, praktiese idees op die internet deesdae om jou te help om jou harde werk te beskerm.

Hier is ’n paar wenke om jou groentetuin op die regte manier te begin:

•Kyk dat jou groente redelik son kry deur die dag (8 ure is ’n goeie tyd) en nie te veel koelte nie;
•Maak seker jou grond is van goeie gehalte deur kompos in te werk wat weer op sy beurt bydra tot organiese produsering;
•Maak gereeld jou groente nat, veral in die vroeë stadium wanneer die wortels nog moet vestig;

Die maklikste groentesaad om nou te saai:

•Wortels
•Radyse
•Groenbone (rank of bos)
•Tamaties
•Uie
•Spinasie
•Boerkool (Kale)
•Baba spinasie
Gemaklikste saailinge vir die lente:
•Slaaiblare (hou hulle net vir eers weg van die koue)
•Kruie soos roosmaryn, laventel, tiemie en pietersielie kan nou heerlik groei
•Tamaties, maar pasop maar vir die laaste koue klappe van die winter
•Seldery
•Spinasie
Beplan jou tuin vir jouself deur te besluit wat julle as familie graag eet, maar dink ook prakties aan plek, water en onderhoud. Lekker tuinmaak!
Fresh Pick is in 2016 gestig met die visie dat wat ons eet nie werklik waarde toevoeg tot ons gesondheid nie. Ons kweek self vars groente, kruie en eetbare blomme, maar het wel ook besef dat dit onmoontlik is om alle soorte en variëteite te kweek en te verkoop en so het ons dus die boere gemeenskap genader om saam te span vir die lewering van ons produk.
Ons droom is om waarde tot die samelewing by te voeg deur tuine by skole te begin, te help onderhou, opvoeding te verskaf en ook dan die oortollige groente aan te koop. Skakel Cecilia vir navrae by 083 780 2410.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button