10 oefenmites ontbloot

In die huidige inligtingsera het ons toegang tot ’n oneindige voorraad wenke, truuks en kunsies wat veronderstel is om ons lewensgehalte te verbeter. Maar telkens wanneer die internet deur nuwe navorsing oorval word, blyk ons vorige idees totaal verkeerd te wees. Onderskei dus feit van fiksie aan die hand van hierdie 10 oefenmites: 1. Mite: …

1. Mite: Die skaal sê alles

Skale is ’n wonderlike manier om ons gewigsveranderinge op die lange duur dop te hou, maar dit is beslis nie die alfa en omega op ons pad na gewigsverlies nie. Wanneer jy die syfer op die skaal sien, moet jy onthou om ander belangrike faktore soos liggaamsvetpersentasie in gedagte te hou.

2. Mite: Drink 8 glase water per dag om gewig te verloor

Volgens ’n studie aan die Harvard-universiteit verloor die gemiddelde volwassene ongeveer vier tot ses glase water per dag. Om agt glase water te drink maak dus glad nie sin nie. Moet dus nie jou kop oor agt glase breek nie – drink eerder water wanneer jy dors is.

3. Mite: Om met gewigte te oefen gaan jou ’n bonkige voorkoms gee

Die gim se gewigte-afdeling is eintlik ’n wonderlike plek om ’n lenige liggaamsbou te verkry, solank jy die korrekte tegnieke gebruik. Begin stadig met dooiegewigoptelle (sumo deadlifts). Hierdie oefeninge sal jou help om die nodige weerstand vir jou ideale liggaam op te hou.

4. Mite: Proteïenskommels werk as maaltydvervangers

Met die koms van sap- en smoothie-winkeltjies is daar meer mense as ooit tevore wat proteïenskommels drink, maar ongelukkig het baie mense hierdie drankies as maaltydvervangers begin gebruik. Proteïenskommels behoort eerder as versnapering geniet te word om ’n gebalanseerde dieet aan te vul.

5. Mite: Om minder te eet help met gewigsverlies

In teenstelling met wat die meeste mense glo, kan die beperking van jou kilojoule-inname in werklikheid tot gewigstoename lei. As jy kwaai oefen, benodig jou liggaam aanvullende voedingstowwe. Fokus eerder op slim maaltydbeplanning wat heilsame kosse en heelwat natuurlike vloeistowwe insluit. Dit sal jou metabolisme ’n hupstoot gee en sorg dat jou liggaam die nodige voeding ontvang.

6. Mite: Teiken spesifieke dele vir gewigsverlies

Daar is nie ’n definitiewe manier om ’n spesifieke deel vir gewigsverlies te teiken nie. Teikenoefening is nie daarop gerig om vetneerslae in daardie deelaf te breek nie, maar bou die onderliggende spiere wat vetverbranding stimuleer ten einde daardie spier te herstel.

7. Mite: Vermy enige koolhidrate

Koolhidrate is ’n wonderlike bron van brandstof, veral as jy gereeld oefen. As jy jou inname van koolhidrate te veel beperk, kan jy ook jou prestasievermoë belemmer en sal jou immuunstelsel daaronder ly.

8. Mite: Kardio is die verslankendste oefening

Die meeste mense wend hulle tot die trapmeul wanneer hulle probeer gewig verloor. Alhoewel dit die vinnigste manier is om dinge uit te sweet, is hoë-intensiteit-kragoefeninge op die lange duur beter vir gewigsverlies.

9. Mite: Strek altyd voor ’n oefensessie om beserings te voorkom

Alhoewel dit belangrik is om op te warm voordat jy oefen, is dit onnodig om ’n spesifieke spier met lang, intense strekke te teiken. Trouens, navorsing het getoon dat dit jou bewegingsomvang kan inperk, jou spiere kan destabiliseer en dus tot ’n minder produktiewe oefensessie kan lei.

10. Mite: Word fiks deur elke dag gim toe te gaan

Om gim toe te gaan kan wondere vir jou gesondheid verrig, maar jou doen en late wanneer jy nie by die gim is nie, is net so belangrik. Herstel speel ’n fundamentele rol in jou gesondheid en as jy jouself nie genoeg tyd gun om te herstel nie, sal jou liggaam nie optimaal presteer nie en sal jy nie die gewenste resultate sien nie.

 

Bron: Goeie huishouding

Exit mobile version