HealthLifestyle

Hoe weet jy of jy ’n gehoorprobleem het?

  Gehoorverlies is ’n algemene probleem wat saam met die ouderdom kom. Omtrent die helfte van alle persone bo 75 sukkel met gehoorverlies. Gehoorverlies het dramatiese gevolge op die lewe van die bejaarde en dra dikwels by tot eensaamheid. Ongelukkig is gehoorapparate soms baie duur en het bejaardes nie die fondse om dit te bekostig …

 

Gehoorverlies is ’n algemene probleem wat saam met die ouderdom kom. Omtrent die helfte van alle persone bo 75 sukkel met gehoorverlies. Gehoorverlies het dramatiese gevolge op die lewe van die bejaarde en dra dikwels by tot eensaamheid. Ongelukkig is gehoorapparate soms baie duur en het bejaardes nie die fondse om dit te bekostig nie.

Gehoorverlies veroorsaak dat bejaardes nie meer goed kan reageer teenoor waarskuwings, fone wat lui, deurklokkies asook rook alarms nie. Hulle kan ook nie meer lekker gesels met familie en vriende nie, wat hul baie geïsoleerd en eensaam laat voel. Ouderdomsverwante gehoorverlies vind ook meestal in beide ore plaas, wat veroorsaak dat bejaardes dit nie eers altyd besef dat hul stelselmatig al hoe minder kan hoor nie.

Die mees algemene oorsaak van ouderdomsverwante gehoorverlies is die veranderinge in die binne-oor, wat gepaard gaan met veroudering. Dit word ook veroorsaak deur die langtermyn blootstelling aan harde klanke, wat die sensoriese haarselle in jou oor beskadig, wat nie die vermoë het om hulself te herstel nie. Algemene kondisies wat onder bejaardes aangetref word, soos hoë bloeddruk en diabetes kan ook bydra tot gehoorverlies.

Om te bepaal of iemand ’n gehoorprobleem het, kan die onderstaande vrae beantwoord word. Indien die antwoord “Ja,” is op drie of meer van die volgende vrae, mag daar ’n gehoorprobleem wees en moet die persoon gaan vir gehoortoetse:

  • Voel jy soms verneder wanneer jy nuwe mense ontmoet omdat jy sukkel om hulle te hoor?
  • Is dit frustrerend om met familie te praat omdat jy sukkel om hulle te hoor?
  • Sukkel jy om mede-werkers of kliënte te hoor en te verstaan?
  • Voel jy beperk deur jou gehoor?
  • Het jy ‘n probleem om te hoor in ’n teater?
  • Veroorsaak ‘n gehoorprobleem konflik tussen jou en familie-lede?
  • Sukkel jy om die TV te hoor op ’n vlak wat hoorbaar is vir ander?
  • Voel jy dat slegte gehoor jou persoonlike of sosiale lewe inperk?
  • Sukkel jy om familie of vriende te hoor wanneer julle saam is in ’n restaurant?

Tydens ’n onlangse studie wat deur Solidariteit Helpende Hand gedoen is, is daar bevind dat medikasie en mediese apparaat dié grootste behoefte onder bejaardes is. Die oorsake daarvan verskil, maar moontlike redes kan wees die feit dat slegs 27% van bejaardes pensioen buiten die maandelikse SASSA-toelaag ontvang en dat ’n skokkende 57% van bejaardes nie oor ’n mediese fonds beskik nie.

Solidariteit Helpende Hand, in samewerking met Impact Hearing help vanjaar 25 bejaardes met 2 gehoorstukke elk, om hierdie mediese nood wat so algemeen onder bejaardes voorkom, te verlig. Vanaf 2015 het Solidariteit Helpende Hand al sowat 138 bejaardes gehelp met gehoorstukke ter waarde van R2.3 miljoen.

 

 

Related Articles

Back to top button