Styl en elegansie soos net die VLU vroue kan

Styl en elegansie. Dit is wat lede van die sewe takke van die Vroue Landbou Unie (VLU) se Area 1 beleef het met die areakonferensie wat op 27 Februarie hier by Casa Cara gehou is. Vanjaar het die voorreg die Parys-tak te beurt geval om gasvrou te wees vir die nagenoeg 100 VLU-lede en gaste …

Styl en elegansie. Dit is wat lede van die sewe takke van die Vroue Landbou Unie (VLU) se Area 1 beleef het met die areakonferensie wat op 27 Februarie hier by Casa Cara gehou is.
Vanjaar het die voorreg die Parys-tak te beurt geval om gasvrou te wees vir die nagenoeg 100 VLU-lede en gaste van Parys, Kroonstad, Steynsrus, Holfontein, Alpha, Koppies, en Edenville.
Die oggend is luisterryk geopen met “You raise me up”, en ’n boodskap en gebed deur past. Rinus van Sandwyk. Daarna het area voorsitter, Elsa Brits van die Alpha-tak, haar area voorsittersverslag gelewer.
Saam met die gesellige saamkuier by keurig gedekte tafels, het gaskunstenaar Jak de Priester gesorg vir ’n optrede wat lank onthou sal word in sy tuisdorp, Parys.
Die Vroue Landbou Unie vroue is bekend vir hul besondere vaardighede en dit kon ook die oggend gesien word. Taklede maak jaarliks bepaalde handwerk items wat dan eers op takvlak beoordeel word, waarna die beste twee in die gevorderde afdeling, en beste beginner inskrywing op areavlak beoordeel word.
Bernadet van der Ende, voorsitter van die Parys-tak, kon met nie minder nie as twee plekke by die area konferensie spog met ’n eerste plek vir naaldwerk en ’n  derde plek vir breiwerk, en Annetjie Dreyer met ’n  derde plek vir filetwerk (hekel). Die handwerk artikels wat punte bo 80 behaal het, sal nou in September by die Vrystaat konferensie beoordeel word.
Die Parys-tak verdien ’n pluimpie vir ’n stylvolle en lekker saamkuier oggend wat nie moontlik sou wees sonder die steun van  die borge wat van dié dag ’n sukses gemaak het

Die Parys VLU taklede is van links voor Joan James, Louise Kriek Elsa Brits (area voorsitter) en Bernadet van der Ende (Parys VLU takvoorsitter). Agter is Rita Bérrange, Annatjie Dreyer, Lazuya Smit, Martie Kastelyn, Lorraine Harmse, Elise van Garderen en Sanet van der Walt (area sekretaresse).

Keurig gedekte tafels soos net die VLU vroue kan.

Sanger Jak de Priester was die gaskunstenaar.

Bernadet van der Ende (regs), takvoorsitter van die Parys VLU wat kon spog met ’n  eerste plek vir naaldwerk, en derde plek vir breiwerk  by die VLU Area konferensie vir Area 1.

Annetjie Dreyer (links) van Parys kon spog met ’n derde plek vir filetwerk (hekel) in die handvlyt-afdeling.

n  Hele 20kg se broodsakkie binders wat deur VLU-lede ingesamel is, is tydens die VLU areakonferensie van Area 1, aan die Parys Dierebeskermingsvereniging (DBV) oorhandig wat hulle weer kan aanwend vir ’n  fondsinsamelingsprojek. Op die foto is Louise Kriek (VLU lid), Sanet van der Walt (area sekretaresse), Joan Ferreira van die Parys DBV, Elsa Brits area voorsitter) en Bernadet van der Ende (Parys VLU takvoorsitter).

Related Articles

Back to top button