Vredefort boer koelbloedig doodgeskiet

Doodgeskiet. Koelbloedig en sonder rede. Só het Dirk Steenkamp, bekende saai- en beesboer, mentor vir baie, en gemeenskapleier vanoggend net voor 08:00 op sy plaas Tempe net buite Vredefort gesterf. Hy is geskiet enkele meter vanaf sy woonhuis op die plaas toe hy ‘n waterpomp gaan aansit het. Sy vrou, Miekie, wat in die huis …

Doodgeskiet. Koelbloedig en sonder rede.

Só het Dirk Steenkamp, bekende saai- en beesboer, mentor vir baie, en gemeenskapleier vanoggend net voor 08:00 op sy plaas Tempe net buite Vredefort gesterf.

Hy is geskiet enkele meter vanaf sy woonhuis op die plaas toe hy ‘n waterpomp gaan aansit het. Sy vrou, Miekie, wat in die huis was, het drie skote gehoor en hulp van ‘n buurman, gevra. Steenkamp is op die toneel dood. Hy is klaarblyklik geskiet terwyl hy oppad terug huistoe was.

Talle mense het dadelik hulp kom verleen en toegangsroetes versper, maar daar word steeds gesoek na Steenkamp se moordenaars wat hulle dadelik na die moord uit die voete gemaak het.

Steenkamp se selfoon en 6.35mm pistool word vermis. LGV-lede het ‘n 9mm patroondoppie op die toneel gekry.

Die VF Plus het vanmiddag in verklaring gesê dat Steenkamp se moord die soveelste aanslag op die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap is en die direkte gevolg van die ANC-regering en die EFF se roekelose en onverantwoordelike uitsprake oor grondonteiening.  “Die regering het Steenkamp se bloed  op hulle hande,” lui die verklaring.

“Die VF Plus het die vorige minister van polisie, mnr. Fikile Mbalula versoek om plaasaanvalle en –moorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar en sal ook nou die nuwe minister, mnr. Beke Cele versoek om dieselfde te doen.”

“Hierdie is  ʼn misdaad wat reuse maatskaplike en ekonomiese gevolge vir die ganse Suid-Afrikaanse gemeenskap inhou.  Dit bedreig lewens, voedselsekerheid en die ekonomiese welstand van honderde gesinne van geaffekteerde boere en plaaswerkers.”

Steenkamp se dood laat ‘n groot leemte in die Vredefort-gemeenskap, maar ook in die harte van sy vrou, Miekie, kinders, Barry en Mari-Lise, Hanna en Anton, en Marieke en Wynand, 5 kleinkinders en familie. Hy is in Vredefort gebore en het sy lewe lank in die distrik gebly. Hy sou op 8 Maart 72 geword het.

Ons innige medelye met die familie.

Exit mobile version