EETGOED VIR KERSFEES

Dit voel asof dit ‘n paar dae gelede Kersfees was, en hier moet ons alweer wonder wat ons vir die feesmaal gaan voorsit ………. Hoop hierdie paar resepte kan julle help … KERSFEESHAM (foto 1) Plaas 1 gerookte ham van 4 – 5 kg oornag in ‘n groot kastrol met koue water. Gooi water die …

Dit voel asof dit ‘n paar dae gelede Kersfees was, en hier moet ons alweer wonder wat ons vir die feesmaal gaan voorsit ………. Hoop hierdie paar resepte kan julle help …

KERSFEESHAM (foto 1)
Plaas 1 gerookte ham van 4 – 5 kg oornag in ‘n groot kastrol met koue water. Gooi water die volgende dag af en kook in skoon water vir 3 – 4 ure. Dreineer na dit verwyder is van die hitte en laat effens afkoel voordat die vel afgetrek word. Sny vetlaag in diamantvorms en steek naeltjies in hoeke van diamante in. Bedek met glanslaag en bak in voorverhitte oond van 140° C vir ongeveer 1 uur.
GLANSLAAG: Laat lê 125 g droë appelkose oornag in 150 ml lemoensap en 25 ml brandewyn en plaas hulle die volgende dag in ‘n voedselverwerker en maak fyn. Voeg by 10 ml aangemaakte mosterd en 75 ml heuning.

KALKOEN MET VULSEL (foto 2)
Geur 1 x 5 kg kalkoen binne en buite met hoenderspeserye, Fondor en suurlemoenpeper.
VULSEL: Meng saam: 500 ml vars, wit broodkrummels, gerasperde skil van 1 suurlemoen, 60 ml gekapte, vars kruie, sout en varsgemaalde swartpeper, 65 ml gesmelte botter en 1 geklitse eier.
Vul kalkoen met vulsel; bind goed toe en plaas in oondroosterpan. Bedek kalkoen kwistig met 150 g gesmelte botter; bedek en bak in voorverhitte oond van 160° C vir 4 – 5 ure. Bedruip gedurende baktyd aanhoudend met gesmelte botter en pansouse. Laat rus kalkoen 20 – 30 minute voor dit gesny word.

PANNEKOEKLAGIES MET GROENTE (foto 3)
Bak 10 pannekoeke en plaas eenkant.
VULSEL: Verhit olie in ‘n groot kastrol en braai 2 gekapte uie tot deurskynend. Voeg 1 kg gemengde rooster groente (murgpampoentjies, wortels, rooi soetrissie, botterskorsie, ens.) by en kook tot die baie sag is. Voeg by 25 ml gekapte vars kruie en ½ pakkie wit uiesoppoeier gemeng met 100 ml water en sout en peper by en prut vir ‘n paar minute. Verwyder van die hitte en hou eenkant.
Bespuit ‘n losboomkoekpan waarin die pannekoek pas en plaas ‘n pannekoek op die bodem. Versprei van die vulsel oor dit en besprinkel met ‘n laag gerasperde kaas. Herhaal die proses tot al die pannekoeke en vulsel opgebruik is; eindig met ‘n laag groente en kaas. Druk die lagies stewig vas en bak die koek ongeveer 10 minute in die oond tot die kaas gesmelt is. Verwyder die rand van die koekpan en dien op.

KERSIE-MERINGUE-PIRAMIDE (foto 4)
Koop of bak soveel meringue-rosies na gelang van die aantal mense en die hoogte van die piramide. Vorm piramide met die rosies en druk styfgeklopte room waarby kersielikeur gevoeg is in ‘n versiersak en buisversier roomrosies tussenin. Plaas vars kersies tussenin soos op foto en dien op.

Exit mobile version