Pasop vir die slang in jou gras

Met die onlangse reën en warmer weer is slange nou besig om weer kop uit te steek regoor die land. In Potchefstroom het daar reeds ’n paar slange kop uitgesteek en die plaaslike jong slangvanger, Arné Hobbs, moes al ’n paar keer uitry om ’n slang in iemand se erf te gaan vang. “Die slange… …

Arné Hobbs met een van sy slange. Foto: Marianke Saayman

Arné Hobbs met een van sy slange. Foto: Marianke Saayman

Met die onlangse reën en warmer weer is slange nou besig om weer kop uit te steek regoor die land. In Potchefstroom het daar reeds ’n paar slange kop uitgesteek en die plaaslike jong slangvanger, Arné Hobbs, moes al ’n paar keer uitry om ’n slang in iemand se erf te gaan vang.

“Die slange kom verseker nou uit. Ek het Maandagaand (14 November) weer ’n slang gevang. Dit was darem net ’n bruin huisslang,” sê Arné. Die mees algemene giftige slang wat in Potchefstroom voorkom is die rinkhals. Hulle is veral bekend om voor te kom in Grimbeekpark, Bailliepark en in die areas op die Paryspad uit as gevolg van die Mooirivier wat daar verbyloop.

Arné Hobbs met sy rinkhals. Foto: Marianke Saayman

Arné Hobbs met sy rinkhals. Foto: Marianke Saayman

“Die rivier lok die paddas, en hulle lok dan weer die rinkhalse,” sê Arné. Ander slange wat ook in daardie areas voorkom is die nagadders en soms ook ander giftige slange.

Arné het verlede week ’n Kaapse Kobra in iemand se erf naby die Bult gevang. Hierdie slange kom nie baie algemeen in Potchefstroom voor nie, en dit was die eerste keer vanjaar dat hy ’n Kaapse Kobra in die stad kry.

Aangesien die rinkhals die mees algemene slang in Potchefstroom is, is dit belangrik dat mense weet wat om te doen wanneer hulle een sien. Hierdie slange is giftig en kan baie gevaarlik wees, veral vir klein kinders. Volgens Arné het ’n rinkhals neurotoksiese- en sitotoksiese gif.

'n Rinkhals. Foto: Marianke Saayman

‘n Rinkhals. Foto: Marianke Saayman

Die neurotoksiese gif val die senuweestelsel aan en veroorsaak dat ’n persoon wat deur die slang gepik is, begin swak asemhaal. Die sitotoksiese gif val die weefsel aan en kan veroorsaak dat iemand hul arm verloor as die slang die persoon daar gepik het.

“Ons moet ook onthou dat hierdie slange dood speel en hulle kan hulle gif spoeg, so mens moet altyd so ‘n 7-8 meter afstand van die slang hou om veilig te wees. Al spoeg hy net 3 meter ver, kan hy steeds vinnig vorentoe kom en jou spoeg,” sê hy.

Arné sê dat hy verkies dat as iemand ’n giftige slang sien, hulle ’n veilige afstand van die slang hou, ’n oog op die slang hou en hom dadelik skakel.

“As iemand nie weet of die slang giftig is nie, neem ’n foto en WhatsApp dit vir my.”

Indien iemand deur ’n giftige slang gepik is, moet die persoon eerstens nie probeer om die gif self uit te suig nie. Moet ook nie ’n toerniket (‘n aarafbinder of skroefverband) opsit as jy nie weet watter tipe slang jou gepik het nie.

“Dit hou die gif dan op een plek en jy gaan verseker daardie deel van jou liggaam verloor,” sê Arné.

“Wat jy wel moet doen is om rustig te bly, my dadelik te skakel en mediese hulp te kry.” Nog ’n belangrike ding om nie te doen as iemand ’n slang in hul erf of huis kry nie, is om die slang te probeer doodmaak.

“Die meeste gevalle waar mense deur slange gepik is, is wanneer die mense die slange hanteer, of probeer doodmaak,” sê Arné. Arné vra dat mense eerder ’n handdoek oor die slang gooi, wat sal keer dat die slang probeer wegseil, en hom dan skakel. Hy sal dan die slang vang en weer vrylaat op ’n plaas in die Vredefort Koepel, waar die slang dan in ’n veilige omgewing kan voortleef.

Indien jy ’n slang in jou erf gewaar, skakel Arné by 076 951 9804. Besoek ook sy Facebookblad, Arne Hobbs – Wise as Serpents vir meer inligting oor slange.

  AUTHOR

Marianke Saayman
Journalist

Related Articles

Back to top button