Wees waterveilig sê polisie ná seun se dood

’n  Jong seun het verlede week hier in die Vaalrivier by die hangbrug in Parys verdrink, waar hy en maats geswem het. Die seun is teen Gazette se druktyd nog nie uitgeken nie. Volgens die polisie is die noodoproep Donderdag net voor 16:00 van die Ngwathe Brandweer- en Nooddiens gekry, nadat ’n  hengelaar wat gesien …

’n  Jong seun het verlede week hier in die Vaalrivier by die hangbrug in Parys verdrink, waar hy en maats geswem het. Die seun is teen Gazette se druktyd nog nie uitgeken nie.
Volgens die polisie is die noodoproep Donderdag net voor 16:00 van die Ngwathe Brandweer- en Nooddiens gekry, nadat ’n  hengelaar wat gesien het wat gebeur, hulp ontbied het.
Polisieduikers van Vereeniging het gehelp om te soek en die jong seun se liggaam is net voor 19:00 uit die rivier gehaal. Hy is op die toneel dood verklaar.
Dit was reeds die soveelste verdrinking by die hangbrug die afgelope twee jaar.
Met die Desember-vakansie wat voorlê en temperature wat reeds baie hoog is, word mense, en veral kinders gewaarsku om baie versigtig te wees wanneer hulle in die rivier swem.
Die polisie se watervleuel in Parys herinner mense aan die volgende:
1. Respekteer water en hou die gevare daarvan in gedagte.
2. Let op waarskuwingstekens waar daar water is, hetsy riviere, mere of damme, of by swembaddens. Gehoorsaam die reëls.
3. Maak seker van weersomstandighede voordat jy gaan swem.
4. Maak seker jy vertel iemand waarheen jy gaan en wanneer jy terugkom.
5. Weet waar om hulp te kry indien nodig.
6. Alkohol en waterveiligheid gaan beslis nie saam nie. Alkoholgebruik tas jou vermoë om te kan oordeel aan, jou krag sowel as jou stamina. Dit is onverantwoordelik om ander se lewens in gevaar te stel.
7. Moenie op die rand van ’n  rivier of dam loop nie.
8. As jy nie opgelei is in lewensredding of reddingstegnieke nie, gebruik ’n stomp of boomtak om iemand wat in die water in gevaar verkeer,  te help en ontbied dadelik hulp, eerder as wat jy self probeer om die persoon te red.
9. Buitebande en opblaasmatrasse is baie gevaarlik in die water omdat dit ’n vals sin van sekuriteit en veiligheid skep.
10. Die gevaarlikste tyd by ’n piekniek is die tyd wat jy daar aankom, wanneer ouers besig is om uit te pak en kinders kan afdwaal om die omgewing te gaan verken. Water se aantrekkingskrag is meestal onweerstaanbaar vir kinders.
11. Selfs by die huis kan dit die gevaarlikste plek wees vir jong, avontuurlustige kinders wat geen of min vrees het vir water.
12. Jong kinders moet liefs altyd onder toesig wees wanneer hulle naby water is, selfs met badtyd.
13. Daar moet ‘n   veiligheidsheining om jou swembad by jou huis, en ander potensieel gevaarlike plekke wees.
14. Maak baddens, wasbakke en ander  houers met water dadelik leeg ná gebruik.
15. Maak emmers met vloeistof baie dig toe en hou buite bereik van kinders.
16. Kinderswembaddens wat nie gebruik word nie, moet leeg getap word.
17. Maak wasmasjiene toe.

Related Articles

Back to top button