Afrika moet vir eers die verlede vergeet en na die toekoms kyk

Vir Afrika om vooruit te gaan moet die verlede vir eers agtergelaat word en daar moet vorentoe gekyk word. ʼn Beter toekoms vir die kontinent kan nie gebou word deur aanhoudend in die verlede te delf nie, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.   Dr. Mulder het vandag met die parlementêre debat …

Vir Afrika om vooruit te gaan moet die verlede vir eers agtergelaat word en daar moet vorentoe gekyk word. ʼn Beter toekoms vir die kontinent kan nie gebou word deur aanhoudend in die verlede te delf nie, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.

 

Dr. Mulder het vandag met die parlementêre debat oor Afrika-dag gesê dit is in almal se belang dat die kontinent opgebou moet word, en dat dit suksesvol moet wees en kompeteer met die res van die wêreld.

 

“Daar word baie gewag gemaak van die feit dat Afrika moet verenig.  Dalk moet ons eerder kyk na ons eie land, ons eie tuiste en eers hier ʼn sukses maak. As elke Afrika-land dit doen, sal die kontinent suksesvol wees.

 

“Dit is goed om te praat van Pan-Afrikanisme, politieke, sosiale en ekonomiese ontwikkeling en solidariteit. Dis is reg en goed, maar dit moet begin by die basiese dinge soos ekonomiese groei.

 

“Dit is pynlik om te sien dat Suid-Afrika agteruitgaan. Dit is pynlik om te sien dat lande soos Egipte en Nigerië by ons verbygaan. Kom ons kry ons eie huis in orde. Kom ons maak eers ʼn sukses van Suid-Afrika, dan kan ons ʼn rol speel in die res van Afrika en ʼn voorbeeld stel.

 

“Eindelik gaan dit oor leierskap en leiers wat bereid is om op te staan vir dit wat reg is. Leiers wat opstaan teen korrupsie, wanbesteding en ʼn voorbeeld stel vir die pad wat Suid-Afrika moet inslaan,” het dr. Mulder gesê.

Related Articles

Back to top button