Uit my dagboek: Nuwe pa: Babbelbekkie het sy eie taal

Aiden is besig om in ‘n regte babbelbekkie, met sy eie taal en al, te ontaard. Ek dink hy aard na sy ma.

Aiden is besig om in ‘n regte babbelbekkie, met sy eie taal en al, te ontaard. Ek dink hy aard na sy ma.
Noudat hy die kuns van loop onder beheer het, wel ‘onder beheer’ is dalk ‘n sterk woord, want hy loop elke dag sterker, het hy nou ook begin om die kuns van praat aan te leer. Die gevolg is dat hy sy eie taal opgemaak het. Daar is ‘n paar woorde wat klink asof dit Afrikaans kan wees. Eintlik net twee, mamma en dadda, maar sy manier van die twee woorde uitspreek dui ook op die verhouding met elkeen van sy ouers. Mamma word baie sag uitgespreek, meer soos ‘n vraag. Of ‘n baie mooi versoek vir iets. Terwyl dadda baie harder gesê word, amper soos ‘n bevel. Mamma word gebruik as Aiden honger is of ‘n lekker wil hê. Terwyl dadda gebruik word as hy opgewonde is of wil speel. Dit maak dat hy nog deurmekaar raak, hy noem my soms mamma wanneer hy iets wil hê en my vrou is soms dadda as sy by die huis kom en hy is baie opgewonde om haar te sien.
Die ander woorde in sy taal klink glad nie soos enige ander taal nie. Wanneer hy oor ernstige sake wil gesels, dan druk hy sy tong uit. “Lablalapablapla,” sal hy sê terwyl hy ernstig na iemand kyk. Ek veronderstel hy probeer praat oor die stand van die land se ekonomie, of hoe dwelms in dorpe aanleiding gee tot ander misdaad.
Wanneer hy minder ernstig wil wees, word daar meer geskree en gegiggel. Die klanke word ook gevorm terwyl sy tong nog binne sy mond is. So dit klink ‘n klein bietjie soos ‘n opgewonde mompel. Wanneer hy so begin praat, skinder hy seker oor die hond of vertel van hoe hy en Harley (ons hond) gespeel het deur die dag. Of dalk van hoe sy juffrou by die skool vir hom kos gegee het. Dit is dan maar eintlik die dag se onbenullige gebeure

Exit mobile version