Wat is arbeidsterapie?

April is Arbeidsterapie bewusmakings maand. Arbeidsterapie fokus op die persoon as geheel en nie net op die diagnose nie. Behandeling is daarop gefokus om probleme op te los wat die persoon in sy/haar daaglikse lewe ervaar as gevolg van die diagnose.

April is Arbeidsterapie bewusmakings maand. Arbeidsterapie fokus op die persoon as geheel en nie net op die diagnose nie. Behandeling is daarop gefokus om probleme op te los wat die persoon in sy/haar daaglikse lewe ervaar as gevolg van die diagnose.
Dit kan insluit om byvoorbeeld te sukkel om persoonlike versorging te doen na ’n beroerte. Een van die doelwitte in terapie is om die persoon so onafhanklik as moontlik te laat funksioneer in sy omgewing.
Arbeidsterapie sluit ’n  verskeidenheid velde in naamlik:
•Fisiese rehabilitasie
•Pediatrie
•Psigiatrie
•Beroepsrehabilitasie en Regsmedies
Fisiese rehabilitasie en pediatriese dienste word aangebied by Parys Distrik-hospitaal.
Die fisiese rehabilitasie veld is gefokus daarop om mense met enige liggaamlike probleme te help na ’n  gebeurtenis, byvoorbeeld ’n beroerte wat verlamming of verswakking aan die een helfte van die lyf veroorsaak het.
Arbeidsterapeute verleen ook hulp aan mense met brandwonde om die genesing daarvan optimaal te maak. Drukklere word gemaak, sodat daar nie onooglike littekens vorm nie.
Mense wat gebruik maak van rolstoele word opgelei deur ’n  Arbeidsterapeut. Rolstoel vaardighede en hoe om te verplaas van die rolstoel na ’n  bed of ander oppervlakte, word aan die persoon geleer.
Die uitreiking van rolstoele word ook deur ‘n Arbeidterapeut gedoen sodat die nodige verstellings aan die rolstoel gedoen kan word asook die gepaste kussing aan die persoon gegee kan word.
Laaste maar nie die minste nie kan jy ook ‘n Arbeidsterapeut besoek indien jy enige handbeserings opgedoen het, byvoorbeeld ’n  gebreekte pols. Arbeidsterapeute word intensief opgelei in die veld van handterapie en maak ook die nodige handspalke.
Die veld wat seker die bekendste is, is pediatrie. Kinders kan terapie ontvang vir ontwikkelings agterstande, verskeie diagnoses soos Down-sindroom, perseptuele probleme, sensoriese prosessering wanorde en skoolverwante probleme.
Die hospitaal bied ook elke Maandagoggend ‘n kliniek genaamd ‘Well Baby Clinic’ aan. Kinders van geboorte tot onder die ouderdom van twee jaar word maandeliks geëvalueer om te verseker die baba ontwikkel optimaal. Stimulasie oefeninge en raad aan ouers word ook verskaf.
Ongelukkig is dit deur die Departement van Gesondheid gespesifiseer dat Parys Distrik-hospitaal net kinders sonder enige liggaamlike gestremdheid onder die ouderdom van sewe kan help met terapie. Daar is nie ’n  ouderdomslimiet op kinders met ’n  gestremdheid nie en enige ouderdom is welkom om te kom vir terapie.
Hierdie artikel omskryf slegs ’n druppel in die emmer van watter hulp verleen kan word deur ‘n arbeidsterapeut.
Vir navrae oor die werk van die arbeidsterapeut skakel gerus vir Lize by 056 816 2155/2156

Exit mobile version