Vaal se superhelde maak ‘n verskil

Kleingoed - en baie volwassenes - is gek oor stories of TV-programme van superhelde.

Kleingoed – en baie volwassenes – is gek oor stories of TV-programme van superhelde.

Karakters soos Superman, Spiderman, Batman en groepe soos Super Power Friends, The Secret Six en vele meer. Ons almal hou van superhelde – daardie soort mense wat ‘n verskil in die wêreld maak danksy hul integriteit en besorgdheid oor hul naaste.

Die afgelope weke het dit duidelik geword dat die Vaaldriehoek vele superhelde in ons eie midde het, maar anders as die fiktiewe karakters klap ons helde nie net hul vingers en wonderlike dinge gebeur nie.
Nee, ons superhelde maak ‘n positiewe verskil danksy goeie beplanning, ordelikheid en baie harde werk.

Die eerste groep superhelde wat vandag deur Vaalweekblad geloof word, is ons streek se onderwysers en skoolhoofde wat weer eens ‘n baie groot bydrae gemaak het tot die uitmuntende matriekprestasies. Sonder dié kaliber mense wat dwarsdeur die jaar fokus behou en baie private tyd opoffer ter wille van ons kinders, sou die uitslae dalk heelwat anders daar uitsien.

Tweedens verdien AfriForum en baie “gewone” inwoners van die Vaaldriehoek lof vir die wyse waarop hulle die afgelope weke saamgestaan het om water vir boere in droogtegeteisterde gebiede in te samel. Vaaldriehoekse kerke, individue, sakeondernemings en staatsinstellings soos die Midvaalse brandweerafdeling het almal saamgespan en ‘n enorme hoeveelheid water ingesamel om by boere in droogtegeteisterde gebiede te laat aflewer. Om te gee vir ander in nood, wys van watter soort staal jy gemaak is.

Maar dit is nie al nie. Op 16 Desember was daar ‘n groot kragonderbreking in CW3 wat deur kabeldiewe veroorsaak is. Emfuleni se elektriese-afdeling het deurnag gewerk om die probleem op te los nadat ‘n substasie ernstig beskadig is.

Die CW3-woongebied was vir byna veertig uur sonder elektrisiteitstoevoer. Wat egter veral noemenswaardig is, is dat ‘n hele span mense uit CW3 self ingespring het om te help. Lede van AfriForum Vanderbijlpark, die GPF sowel as gewone besorgde inwoners het saamgewerk. Hulle het die substasie se deure en diefwering herstel, materiaal geskenk, gereedskap en sweistoerusting verskaf en selfs deur die nag wag gestaan om verdere diefstal te voorkom.

Dawie Jordaan, AfriForumlid en takbuurtwagkoördineerder vir die gebied, sowel as Andries Visagie, AfriForum se taksekretaris, het agterna gesê dit was wonderlik om te kon ervaar hoe mense saamstaan. Nie die lang ure of harde reënbuie kon die geesdrif demp nie.

Dit is positiewe mense soos hierdie wat alle inwoners hoop vir die toekoms gee en ‘n mens trots maak om ‘n Valie te wees.

Exit mobile version