LifestyleReligion

Bely ons sondes voor die Here as inwoners van ons land

Ds. Koos Mouton - Gereformeerde Kerk Mooirivier

Ds. Koos Mouton – Gereformeerde Kerk Mooirivier
Lees 1 Konings 17 en 18
Elia op die berg Karmel. Elia wat die Baälpriesters uitdaag en die volk tot ‘n keuse bring: vir Baäl of vir die Here. Ons kan nie reglynige lyne trek tussen hierdie verhaal en vandag nie.
Tog is daar waarhede in die stuk geskiedenis wat vandag nog geld. Agab, en sy vrou Isebel, verlei die volk tot aanbidding van die afgod Baäl. Dit was verbreking van die verbond en die wet in Eksodus 20. Toe kry Elia die opdrag om die droogte wat sal kom aan te kondig, omdat Israel die Here verlaat het. Die naam van Elia sê wat sy geloofsbasis is: “Die Here is God.”
“Daar sal geen reën of dou in die volgende paar jaar val nie, behalwe as ek so sê….” Kan jy jou dit voorstel watter geweldige implikasies dit het as daar in omgewing in drie jaar geen reën of dou val nie? Mens, dier en plant sal vergaan.
Hoekom doen die Here dit? Om Israel na Hom toe te laat terugkom. Hy vra bekering. Dat hulle weer sal bely dat die Here God is… soos Elia se naam sê. Dat Israel sal erken dat dit nie Baäl is wat reën, vrugbaarheid, voedsel gee nie, maar die Here.
Na 850 jaar (Agab sterf 851 v.C) het Jesus Christus onder ons kom woon. Hy het die straf van God op die sonde op Hom geneem. Nou word ons nie meer gestraf in die sin dat is-gelyk-aan tekens tussen sekere sondes en sekere wêreldgebeure getrek kan word nie. Maar tog moet ons nie blind wees vir God se handewerk in die natuur, en in die geskiedenis nie. Van tyd tot tyd roep kerke hulle lidmate op tot ‘n dag van gebed en verootmoediging.
Verootmoediging? ‘n Groot woord wat sê dat ons skuldbelydenis doen (kop onderstebo sal kom staan) oor ons sondes voor God. En erken dat Hy alleen God is.
Presies dit het Elia gedoen. Hy het dit vir die volk kom wys deur die gebeure op die berg Karmel. Die Baälpriesters kon nie Baäl sover kry om die vuur aan die brand te kry nie. En toe het die Here geantwoord op Elia se gebed. ‘n Wonderwerk deur God self. Sien daarom God weer in sy grootheid en almag raak. Kom ons keer terug na die lewende God. Bely ons sondes voor die Here as inwoners van Suid-Afrika.
Die keuse waarvoor Elia die volk op Karmel gestel het is dieselfde keuse wat die Here ons vra: “As Baäl God is, dien hom.” As die god van vandag, in watter vorm ookal, god is, dien hom. Geldgod? Sportgod? God van onverskilligheid? Noem maar op watter hedendaagse “gode” daar is. Maar as die Here God is, aanbid Hom.
Kyk dan of die Here nie die “sluise van die hemel” vir ons sal ooptrek, soos Hy gedoen het, toe Elia gebid het dat dit weer moet reën….
Ek sien ‘n wolkie, so groot soos ‘n man se hand, uit die see opkom… (1 Kon. 19:44).

Related Articles

Back to top button