LifestyleRecipes

Wat eet ons vanaand?

Dis seker die vraag wat die meeste in enige huis gevra word. Vandag gee ek ’n paar resepte wat ietsie anders is om in die koue maande saam met ’n glasie wyn in die aand te genie

Dis seker die vraag wat die meeste in enige huis gevra word. Vandag gee ek ’n paar resepte wat ietsie anders is om in die koue maande saam met ’n glasie wyn in die aand te geniet

Souttert
Klits 6 eiers goed met 5ml bakpoeier en 125ml koekmeel. Roer by: 750 ml grofgekapte polonie (of ander koue vleis), 1 x 410 g blik tamatie-en-uiesmoor, 1 gekapte klein rooi soetrissie, 1 gekapte klein groen soetrissie, geurmiddels na smaak en 50ml vars, gekapte gemengde kruie. Skep in gesmeerde oondbak van 25 cm. Sprinkel 250ml gerasperde kaas bo-oor en bak 30 minute teen 180° C.

Viskoekies
Kook 2 groot aartappels tot sag en trek die skille af; maak fyn. Voeg by 500ml gaar gevlokte vis, soos snoek of ander vis, 1 geklitste eier, 30ml melk, 5ml suurlemoensap, 45ml vars, gekapte pietersielie en ’n paar druppels Tabasco. Meng goed en maak balletjies; druk effens plat. Meng 125ml koekmeel met 2,5 ml droë kruie en sout en peper en rol koekies daarin. Plaas in die yskas vir 60 minute.
Braai koekies in vlak olie aan albei kante tot goudbruin en dreineer op kombuispapier. Sit warm voor.

Maalvleisrol
Stel oond op 160° C.
Vulsel: Verhit olie en braai 2 fyngekapte uie daarin. Voeg 250g fyngesnyde sampioene en 1 gekapte knoffelhuisie by. Verwyder van die hitte en hou eenkant.
Maalvleis: Meng saam: 1kg beesmaalvleis, 30ml vars, gekapte pietersielie, 5 ml sout, bie-tjie peper, 2 eiers, 250 ml vars broodkrummels, 2,5 ml droë gemengde kruie en 10 ml sojasous. Druk maalvleis plat op groot stuk foelie 30 cm x 40 cm en maak rande egalig. Sprinkel 180ml gerasperde mozzarellakaas bo-oor en skep dan die vulsel op en maak gelyk, maar nie te naby aan rand nie. Rol maalvleis op met behulp van foelie. Maak foelie aan kante en bo toe dat dit ’n mooi rol vorm. Plaas in ’n oondskottel (met die foelienaat na bo) en bak vir 45 minute. Maak die foelie aan bokant oop en bak nog 15 minute.Verwyder die foelie en dien op.

Mieliebrood
Stel oond op 180° C. Verhit bietjie olie en soteer 1 fyngekapte ui tot sag. Hou eenkant. Sif 500g bruismeel saam met ’n knippie sout. Roer 45ml strooisuiker, 1 x 340 g suikermielies en gebraaide ui daarby. Klits 1 x 410 g blik ingedampte melk met 1 eier, 75ml water en 60ml olie en roer by meelmengsel. Skep deeg in gesmeerde broodpan en bak vir 60 minute tot toetspen skoon uitkom. Sit snytjies brood voor met botter en kaas.

Groentebredie
Braai 1 gekapte ui in bietjie olie tot deurskynend. Voeg by 3 gekneusde knoffelhuisies, 5ml elk gemaalde gemmer, borrie en gemaalde kaneel en bietjie gedroogde peri-peri.
Voeg by 1 x 400 g blik elk tamaties en kekerertjies (gedreineer), 125ml sultanas en 250ml water. Bring tot kookpunt, verlaag hitte en prut vir 20 minute. Voeg by 400g blokkies botterskorsie, 4 groot murgpampoentjies (in skyfies gesny) en 2 wortels (in skyfies gesny); kook ’n verdere 20 minute tot groente sag is. Geur met sout en peper en bedien met koeskoes.
Koeskoes: Plaas 250ml koeskoes in ’n groot bak en bedek met 250ml kookwater; laat staan vir 5 minute tot water geabsorbeer is. Maak koeskoes met ’n vurk los en roer 25ml sagte botter en 60ml vars gekapte pietersielie by. Geur na smaak.

Southappies
Stel oond op 180° C.
Broodjies: Druk 16 snye wit brood met 5-cm koekiedrukker in sirkels uit. Smelt 45ml olie en 15 ml botter en verf sirkels aan albei kante en plaas op bakplaat. Bak vir 10 – 15 minute; draai in helfte van baktyd om.
Vulsel: Braai 1 gekapte ui, 1 gekneusde knoffelhuisie en 250g fyngekapte sampioene saam in bietjie botter. Voeg 45ml koekmeel by en roer 180ml melk stadig by om ’n dik witsous te maak. Voeg by 4 gekapte grasuie, bietjie droë origanum, sout en peper by en meng goed. Skep mengsel bo-op elke broodjie; besprinkel met droë parmesaankaas en garneer met skyfies swart olywe. Bak weer vir 15 minute en sit dadelik voor.

Related Articles

Back to top button