Hou vas aan die beloftes van God

Ds. André Kok, leraar van die NG Kerk

Ds. André Kok, leraar van die NG Kerk
Lees Numeri 13:26-14:11

As jy positief en daadkragtig tot eer van God wil leef, moet jy in al jou doen en late met God rekening hou. Dit beteken dat jy in moeilike omstandighede gelowig moet vashou aan God en sy wonderlike beloftes.

Gelowiges en ongelowiges kyk op verskillende maniere na die feite van die dag en die werklikhede waarmee ons almal worstel. Dit werk mee dat daar altyd negatiewe en positiewe mense sal wees. Toe die volk Israel gereed was om die beloofde land in te gaan, het Moses op bevel van die Here twaalf verspieders gestuur om te kyk na die landboumoontlikhede van Kanaan en die militêre slaankrag van die inwoners.

Die twaalf manne het dieselfde dinge gesien en hulle verslag was daarom ook dieselfde. Dit het egter geblyk dat tien van die twaalf nie die land met die oë van geloof bekyk het nie. Hulle het na die beloofde land gekyk, maar vergeet dat God belowe het dat Hy die land aan hulle sou gee (Eks 13:5, 33:1 en Num 13:1).

Volgens die tien manne was dit ‘n onbegonne taak om die land binne te trek (Num 13:31). Hulle het God se almag onderskat en ten spyte van al die wonders wat Hy onder hulle gedoen het, het hulle nie op Hom vertrou nie (Num 14:11).

Vanweë hulle ongeloof en klein geloof het hulle negatiewe mense geword en hulself beskou as so nietig soos sprinkane voor die reusagtige mense. Hulle pessimisme het die volk aangesteek en hulle wou selfs teruggaan Egipte toe (Num 14:1,4).

Josua en Kaleb het ‘n ander gesindheid gehad (Num 14:9,24). Hulle was positief en hulle woorde het gegloei van geloofsoptimisme: Die Here is by ons!

Omdat hulle met die beloftes van God rekening gehou het, was hulle daarvan oortuig dat hulle nie bang hoef te wees nie en die reusagtige inwoners van die land maklik sal kan oorweldig (Num 14:7). God het belowe dat Hy sy kinders nooit sal verlaat en nooit in die steek sal laat nie (Deut 31:6, Ps 118:6). Daarom kan ons ook met vertroue bely dat Hy ons Helper is en dat ons niks hoef te vrees nie (Heb 13:5,6)

Gebed: Gee, o Here, dat ek nooit u beloftes van seën en bewaring sal vergeet nie en daarom ‘n positiewe gelowige sal bly!

Exit mobile version