HealthLifestyle

Die sielkunde van afknouery

Prof. Pieter Joubert, ‘n sielkundige in Potch is gevra om sy mening te gee oor die toenemende voorkoms van boelie-gedrag by skole.

Prof. Pieter Joubert, ‘n sielkundige in Potch is gevra om sy mening te gee oor die toenemende voorkoms van boelie-gedrag by skole.

Hy skryf as volg:
Samelewingsgeweld kom tans vry algemeen voor in Suid-Afrika. Betogings om die Regering bewus te maak van swak dienslewering gaan meer dikwels met geweld gepaard, die Marikana-slagting is tans weer in die nuus, padwoede en sommige polisielede wat klaarblyklik buite die perke van hulle wettige mandaat gewelddadig teenoor vermeende oortreders optree, word ook dikwels in die nuusmedia gerapporteer. In dieselfde trant kom boelie-gedrag ook toenemend by laer- en hoërskoolkinders voor.

Boelie-gedrag kan meermale terug herlei word na ouers (meestal pa’s) wat hardhandig/gewelddadig teenoor hulle kinders optree. Die kind voel magteloos wanneer ‘n ouer wat groter en sterker as hy/sy is met woede en gepaardgaande fisieke geweld teenoor hom/haar optree. Opbouende frustrasie en woede van so ‘n “slagoffer” manifesteer dan dikwels in boelie-gedrag, m.a.w. die kind soek dan ‘n “sagte teiken” by die skool wat meestal kleiner as hy/sy is en verplaas dan sy/haar opgeboude woede/aggressie op ander kinders deur hulle te boelie.

Indien die agtergrond van die ouer wat sy kind “boelie” nagegaan word, word dikwels gevind dat toe die ouer ‘n kind was, hy/sy self dikwels deur húlle ouers met aggressie en geweld hanteer is.

So word die patroon van boelie-gedrag dus dikwels oorgedra van ouer tot kind. Boelies voel dikwels inherent minderwaardig a.g.v. die feit dat hulle as onaanvaarbaar vir hulle eie pa en/of ma beleef word. Indien een of albei van die kind se mees prominente rolmodelle nl. pa of ma deur die kind as onaanvaarbaar of verwerpend beleef word, manifesteer so ‘n kind se gedrag dikwels deur kinders te boelie ten einde daardeur te poog om van hulle eie verwerping op iemand anders te verplaas. Frustrasies wat ouers vandag beleef i.t.v. swart-op-wit en wit-op-swart diskriminasie in die werkplek, finansiële druk en gepaardgaande frustrasies lei ongelukkig daartoe dat volwassenes self beleef dat hulle “geboelie” word. Die volwassene se opbouende frustrasies wat hy/sy by die werk ervaar kan egter nie dáár ontlont word nie; jy kan nie aggressief teenoor jou “baas” optree nie. So ‘n persoon blaas dus meestal stoom af by die huis (“waar jy baas is”) deur onverdraagsaam en aggressief teenoor jou mede-gesinslede op te tree.
Meer as een laer- en hoërskoolkind het al aan my gesê: “Ek wens ek kan my ma en pa vertel hoe ek by die skool geboelie word.”

Slagoffers van boelies is dikwels te skaam om te erken dat hulle geboelie word, juis omdat hulle bang is vir hulle ouers se reaksie. Ongeag die realiteite van die samelewing wat gekenmerk word deur geweld en onverdraagsaamheid, behoort ouers hulle kommunikasiekanale tussen hulle en hulle kinders oop te hou. Jy as ouer het ‘n verpligte verantwoordelikheid teenoor jou kinders om hulle met liefde en koestering te hanteer.

Jy is volwasse, jou kind nie. Jou onvoorwaardelike aanvaarding van jou kind bou sy/haar selfbeeld, en keer moontlike boelie-gedrag. Skei jou liefde vir jou kind van sy/haar se moontlike onaanvaarbare gedrag.

Related Articles

Back to top button