Editor's choice

Potchefstroom veearts skuldig aan onprofessionele gedrag

Dr. Sameer Abbas, ’n veearts van Potchefstroom, is deur ’n onafhanklike dissiplinêre komitee van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad skuldig bevind aan onprofessionele gedrag.

Dr. Sameer Abbas, ’n veearts van Potchefstroom, is deur ’n onafhanklike dissiplinêre komitee van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad skuldig bevind aan onprofessionele gedrag.

Dr. Abbas se lisensie om te praktiseer is vir ses maande opgeskort, maar die opskorting is vir twee jaar opgeskort. Dit volg nadat hy geweier het om bewyse en verslae in te handig met betrekking tot die kriminele saak wat teen Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, ondersoek word.

Meer as 50 dooie varke is in Julie 2014 op Modise se plaas, Modderfontein naby Potchefstroom gevind. Die oorblywende 85 varke was besig om die vrot karkasse van ander varke te vreet. Volgens die NDBV, het dr. Abbas foto’s op die plaas geneem. Hy het ook weefselmonsters van die diere vir ontleding geneem en het ook ’n nadoodse ondersoek gedoen op die karkas van ‘n skaap wat op Modise se plaas gevrek het.

Die NDBV het aangeneem al die inligting sou as die basis van die verslag dien wat by die dossier bygevoeg sou word. Maar dr. Abbas het op 22 Julie ’n e-pos aangestuur waar hy homself onttrek van die saak en nie meer betrokke wil wees by die ondersoek nie. Die NDBV het bevestig dat dit die eerste keer in die organisasie se 59 jaar geskiedenis is dat ’n veearts versuim het om ’n verslag in te dien aan hulle.

“Na die dissiplinêre verhoor is hy gedwing om sy verslae in te handig sodat dit by die dossier gevoeg kan word. Die polisie is steeds besig om die saak te ondersoek en wag steeds vir Modise se verklaring,” het Andries Venter, senior inspekteur van die NDBV gesê.

Volgens ’n skrywe op Facebook deur dr. Abbas se vrou, Safiah Maali, is die saak polities gemotiveer en steeds nie afgehandel nie. Sy skryf ook dat sy glo dr. Abbas is nie skuldig op die aanklagte nie.

Related Articles

Back to top button