Padwerke: Raad sal moet vasvat

Toe die stadsraad ’n tyd gelede aangekondig het dat ’n gedeelte van Albert Luthuli-rylaan vir sowat vier maande gesluit gaan wees om dié deel breër te maak, het niemand waarskynlik besef wat die volle implikasies hiervan gaan wees nie. Die stadsraad het verskoning gevra vir die ongerief, en ja, mens kon self insien dat dit …

Toe die stadsraad ’n tyd gelede aangekondig het dat ’n gedeelte van Albert Luthuli-rylaan vir sowat vier maande gesluit gaan wees om dié deel breër te maak, het niemand waarskynlik besef wat die volle implikasies hiervan gaan wees nie.

Die stadsraad het verskoning gevra vir die ongerief, en ja, mens kon self insien dat dit groot ontwrigting behoort te veroorsaak, maar “ontwrigting of ongerief” beskryf soos wat dit tans gaan, nie naastenby die situasie nie. Die ongerief om ander paaie te gebruik is eintlik die minste. Die probleme wat dit elders, op veral die Bult veroorsaak is niks anders as chaos nie.

Dit is onbegryplik dat die verkeersafdeling nog geensins ingegryp het om die verkeersdruk in veral Thabo Mbeki-rylaan gedurende spitstye, wat nou al van 16:00 tot omtrent 18:30 duur, te probeer verlig deur puntdiens in te stel nie. Behalwe die stadige vordering van die werk aan Albert Luthuli-rylaan wat die stadsraad dringend met die kontrakteur sal moet bespreek, is dit dus nodig om te gaan kyk wat die volle implikasie met verkeer in die Bult-omgewing as gevolg van die sluiting was en dan stappe in te stel om dit vir padgebruikers makliker te maak.

Die vierrigtingstop by Gerrit Dekkerstraat veroorsaak opeenhopings wat strek vanaf Meyerstraat en selfs verder terug tot by Esselenstraat. Thabo Mbeki-rylaan is ’n hoof in- en uitgangsroete na die R501 en groot uitbreidings het die afgelope tyd in daardie noordelike deel van die stad plaasgevind en die verkeer het drasties toegeneem. Gerrit Dekkerstraat is ook een van die hoofroetes wat Puk-personeel en studente huistoegaantyd gebruik.
Verkeer kom dus in ’n noordelike rigting vanuit Thabo Mbeki by die Gerrit Dekker-kruising aan en van die Puk se kant af by dieselfde kruising. Motors staan in ellelange toue en beweeg skaars.

Die verkeersafdeling is nêrens te sien terwyl hierdie daaglikse chaos plaasvind nie. Niks doen is tog nie die antwoord nie.

Exit mobile version