Editor's choiceHealthLifestyle

Sê NEE vir dwelms

Dwelmgebruik en dwelmhandel in Parys het die afgelope bykans twee jaar skrikwekkende afmetinge in Parys aangeneem met veral die gebruik van Crystal Meth (Tik), Kokaïne en Nyaupé wat skerp toegeneem het onder alle ouderdomme en vlakke van die samelewing. Maar tot hiertoe en nie verder nie, is die afgelope week gesê toe kragte saamgespan is …

drugs, meth
drugs, meth

Dwelmgebruik en dwelmhandel in Parys het die afgelope bykans twee jaar skrikwekkende afmetinge in Parys aangeneem met veral die gebruik van Crystal Meth (Tik), Kokaïne en Nyaupé wat skerp toegeneem het onder alle ouderdomme en vlakke van die samelewing.

Maar tot hiertoe en nie verder nie, is die afgelope week gesê toe kragte saamgespan is tussen die SAPD, Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV), Koepel Stereo en Parys Gazette.

Danksy ondersteuning van Pathcare sal die “Parys sê ‘nee’ vir dwelms” veldtog hier geloods word van 1-12 Junie. Die loodsprojek sal na verwagting ook na ander dorpe uitgebrei word. Met die veldtog sal mense uit die gemeenskap vrywillig en heeltemal gratis ’n siftings dwelm-urinetoets kan laat doen gedurende die tydperk. Die gedagte is dat mense die boodskap teen dwelmgebruik hiermee sigbaar sal uitdra deur veral as sakegemeenskap mense te motiveer om op te staan teen dwelmgebruik en nie te huiwer om te laat toets nie.

Waar positiewe resultate ontvang word, sal dokters wat deel is van die veldtog, self die persoon konsulteer, veral waar die gebruik van medikasie die toets kon beïnvloed het. Die gedagte is nie om skuldiges te soek nie, maar eerder ’n boodskap teen dwelmgebruik oor te dra. Die projek sal op 1 Junie by die Parys-rolbalklub afskop wanneer prominente figure uit die gemeenskap hier vrywillig aan die projek sal deelneem en hulle gaan laat toets. Daarna sal ’n beperkte hoeveelheid toetse tot 12 Junie gratis by Pathcare in Boomstraat gedoen word Maandae tot Vrydae 09:00 tot 17:00.

Ná 12 Junie sal die projek voortgesit word.
Kom ons as sakegemeenskap, ouers en individue probeer op hierdie manier daadwerklik self iets doen om te wys dat die gemeenskap ‘nee’ sê vir dwelmverslawing en die hartseer gevolge daarvan.

Tik kan jou jou lewe kos
Baie is al geskryf en getuig oor die dodelike gevaar van Crystal Meth, beter bekend as Tik. Tik is net een vorm van die dwelm metham-phetamine – ’n wit kristalagtige dwelm wat ingeneem word deur dit te snuif, rook, in te spuit of selfs oraal in te neem. Dit skep ’n vals gevoel van geluk en welstand, selfvertroue, hiperaktiwiteit en energie met verminderde eetlus by gebruikers.

Die effek van die dwelm hou nagenoeg ses tot agt ure maar kan tot 24 uur duur.
Terwyl dit die vals gevoel van plesier by gebruikers skep, begin dit aanvanklik as stimulant wat reg van die begin ’n vernietigingspad in die liggaam en lewe van gebruikers volg.

Die dwelm is onwettig en kan in dieselfde klas as kokaïne en ander sterk dwelms genoem word. Ander straatname hiervoer sluit in meth, crank, chalk, ice, glass en speed. Tik word dikwels beskou as ’n sogenaamde klubdwelm wat tydens ’n aand van plesier in kuierplekke of by partytjies gebruik word. Newe-effekte as gevolg van die gebruik hiervan sluit in onder meer geheueverlies, aggresie, psigotiese gedrag, versteurde slaappatrone, hiperaktiwiteit, geïrriteerdheid, geweldige gewigsverlies, konvulsies, depressie, lewer, nier en longskade, en potensiële hart- en breinskade, wat uiteindelik tot die dood kan lei. Meth vernietig die liggaam se reserwes stelselmatig wat ’n verslawing tot gevolg het wat net verlig kan word deur meer van die dwelm te neem met gepaardgaande skade aan die liggaam.

Omdat die dwelm só hoogs gekonsentreerd is, raak baie gebruikers afhanklik ná een keer se gebruik. Daarom is dit een van die moeilikste dwelmverslawings om te behandel en sterf baie gevolglik hiervan.

Die dwelm kan uitgeken word as ’n kristalagtige wit poeier (baie soortgelyk aan die voorkoms van fyn ys) wat reukloos is, ’n bitter smaak het en maklik oplos in water of alkohol. Dit kan ook ’n bruin, geelgrys, oranje of selfs pienk poeier wees saamgedruk in pilvorm.

Methamphetamine is ’n sintetiese (mensgemaakte) chemikalieë wat vervaardig word in onwettige, weggesteekte laboratoriums waar verskeie vorme van amphetamine (nog ’n stimulant dwelm) of ander chemikalieë gemeng word.

Selfs algemene griepkuurpille word gebruik as basis, gemeng met batterysuur, dreinskoonmaker, lanternolie anti-freeze of selfs rotgif.

Related Articles

Back to top button