SportSport

‘Ek het my totaal en al uitgeleef in die Comrades’

‘Ek het my totaal en al uitgeleef in die Comrades’

Daar was nie ’n skare nie. Ook nie die duisende atlete en adrenalien in Durban en Pietermaritzburg se strate nie. Of die triomf van ’n Comrades-medalje om die nek nie. Net die ysige Vrystaatse vroegoggend winterlug wat byt aan jou kaal bene, en hande wat die pad moet ‘sien’.

Só het die blinde Chris Stander van Parys op 14 Junie die virtuele Comrades aangepak in Grewarlaan – van hobbel na hobbel gestap – wit kierie in die hand, met sy vrou, Marina wat op die hoek van Grewarlaan en Johannastraat, gewag en ondersteun het.
Hoewel hy hom totaal en al uitgeleef het in die Comrades, was hierdie eerste vir die historiese wedloop, vir dié afgetrede prokureur ’n unieke belewenis. Met elke tree het die voëlsang, die geritstel van blare en gekabbel van water oor rotse die prentjie ingekleur van die roete langs die Vaalrivier wat hy nie kon sien nie.

“As ek my hart kon volg sou ek rugby en krieket wou speel,” sê Chris wat ’n absolute sportfanatikus is en sy statistiek ken, laat Marina hoor. Maar al was die rugby- en krieketveld hom nie beskore nie omdat hy blind gebore is, het hy op skool en selfs as Tukkies-student in die stoeikryt geklim.

Die hardloopgogga het gebyt toe hy in 1970 as skolier by die Pionierskool vir Blindes in Worcester aan die landwye 20km lenteloop deelgeneem het. Sommer vir die pret, gesels hy, het heelwat van ons dit gedoen, sonder dat ons spesifiek geoefen het. Dit was vasbyt en swaarkry met die draf en stappery wat afgewissel is.

’n Jaar later was daar die opsie van ’n 40km. “As ek moet terugdink het my aangetrokkenheid tot langafstand padwedlope hier begin.”
Maar die drawwery het eers in alle ywer begin toe Chris in Pretoria begin voorberei het vir die SA Spele vir Gestremde Atlete. Hier het hy van gewigstoot tot driesprong en naellope gedoen.
Toe die egpaar hulle in Piet Retief gevestig het, het hy saam met ‘n vriend begin oefen en word hy een van die stigterslede van die Assegaai-marthonklub waar hy ook 25 jaar voorsitter was. Die klub bied jaarliks die Assegaai-marathon aan wat vanjaar reeds vir die 33ste keer gehou is. Aan hardloopmaats het dit Chris nooit ontbreek nie. Met ’n tekkieveter geknoop in ’n lus wat hy en sy hardloopmaat in hul hande hou, is dit die kompas wat sy voete rigting gee.

So het hy sy 20 Comrades-marathons voltooi, en ook 25 Loskop Ultra-marathons aangepak. Selfs by parkruns is hy ’n gereelde gesig.
Ons kinders is Comrades-kinders, sê Chris en Marina, wanneer hulle vertel hoe hul kinders langs wedlope grootgeword het. Al is Marina nie ‘n atleet nie was sy oor jare getrou op haar pos – of dit met die beplanning van wedlope was, of langs die roete om Chris te ondersteun.
Parys se strate is welisvaar vir hom ’n uitdaging – nie oor die slaggate wat sy wit kierie nog kan raakvoel nie, maar die onverwagse gate en leivore.

“Ten spyte hiervan wil hy as die weer beter is gereeld sy 3-4km stap op sy eie,” sê hy, en dan kom haal hy Marina en kleur sy vir hom die oewerprentjie in met wat sy sien – die kabbelende water en astrante kolganse. Volgende jaar wil hy ook weer padwedlope aanpak, met dieselfde deursettingsvermoë as wat hy en sy dogter Magriet in 2019 Tafelberg geklim het om hul 100 jaar saam te vier – 65 jaar vir hom en 35 vir haar. Vir Chris is sy hardlopery 90% toewyding en harde werk – nie omdat hy ’n gebore atleet is nie. “Dit maak jou kop oop as jy vroegoggend gaan draf voor die hof begin sit,” vertel hy van die tyd toe hy nog die prokureurstoga gedra het. Aan die begin van die gesprek sê Chris so terloops – ek is mal oor dinge wat uitwerk, en vir hom het sy liefde vir sport uitgewerk ten spyte van blind-wees.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button