SportSport

Jong veldmotorfiets-sensasie het Dakar-drome

Dit sit nie sommer in enige 17-jarige se broek om ‘n uitdagende 1 000 kilometer veldwedren op sy veldmotorfiets te voltooi nie, wat nog te sê as jy jouself in dieselfde kompetisie as die Suid-Afrikaanse Dakar tydrenwenner, Giniel de Villiers, bevind.

Dit is presies wat Maarten van Jaarsveld, ‘n graad 11-leerder aan Potchefstroom Gimnasium op sy Husqvarna 250 cc veldmotorfiets bereik het.

Hy het in die OR3-professionele-kategorie by die Toyota 1 000 kilometer woestynwedren in Botswana ‘n briljante 17de algehele posisie en ook ‘n 5de plek in sy kategorie behaal. Dit is ook die tweede keer dat hy hierdie wedren voltooi, nadat hy dit in 2017 ook reggekry het. Hierdie internasionale wedren in Botswana maak juis deel uit van die kwalifiserende rondte vir voorlopige deelnemers aan die Dakar tydren.

Maarten is geen nuweling in die sport nie, aangesien hy reeds sedert 5-jarige ouderdom sy talent op twee wiele ten toon stel. In graad 1 het hy sy heel eerste veldfietswedren in die aand voltooi en in graad 3 aan sy eerste nasionale junior veldfietswedren deelgeneem. Volgens hom was die 1 000 kilometer resies een van die lekkerste ervarings waar hy homself met sy goeie posisies verras het.

“Ek is baie gelukkig met my posisie. Dit is ‘n groot uitdaging om in moeilike woestyntoestande te ry. Op die eerste dag was daar ‘n tydskof van omtrent 50 kilometer om jou wegspringposisie te bepaal. Op die tweede dag ry ‘n mens so 500 kilometer en dan die laaste dag so 450 kilometer. Elke dag het ek sowat twee rondtes van omtrent 250 kilometer elk gery,” vertel Maarten.

Maarten van Jaarsveld, 'n graad 11-leerder aan Potchefstroom Gimnasium doen die praatwerk op sy Husqvarna veldmotorfiets waar hy tans in hierdie sport in verskeie wedrenne uitblink.

Maarten van Jaarsveld, ‘n graad 11-leerder aan Potchefstroom Gimnasium doen die praatwerk op sy Husqvarna veldmotorfiets waar hy tans in hierdie sport in verskeie wedrenne uitblink. Foto: Verskaf

Op hierdie uitdagende roete is daar ook drie brandstofpunte waar hy sy motorfiets weer self moet volmaak in ‘n drie minute tydstip. Daar is wel op die halfpadmerk (na een rondte) die geleentheid om na die kuipe toe te gaan om vir 15 minute gou iets te drink en ‘n blaaskans te neem voordat motorfietsjaers weer moet uitgaan.
“Nog ‘n uitdaging was die los sand waaroor ek moes ry en dit is dan belangrik om die motorfiets goed te beheer en net die versnelklep oop te hou. Dit maak ‘n mens regtig fisies moeg, en dit vat baie oefening om aan so ‘n wedren deel te neem,” noem Maarten verder, wat soveel moontlik tyd op sy motorfiets deurbring.

Buiten dit, neem Maarten ook aan die Noordelike Streke Veldmotorfietsreeks deel waar hy tans die 2de posisie in hierdie reeks na vier wedrenne beklee. Maarten het op 14 Julie ‘n derde plek in die OR3-kategorie behaal en die 250 kilometer wedren in 3 ure en 39 minute afgelê om sy posisie in die reeks te verstewig. Hy het in verlede jaar se reeks ‘n derde algehele plek in die Hoërskole-kategorie behaal. Hy het wel vanjaar besluit om in die kompeterende OR3-kategorie deel te neem aangesien die kompetisie ‘n groter uitdaging vir hom inhou.

“Al die top ouens ry in my kategorie en vir my is dit nogal snaaks en opwindend dat ek op so ‘n jong ouderdom so goed doen. Ek dink dit het baie te doen met hoe graag ek wil wys dat ek in die groep behoort,” sê hy.

Die volgende resies in hierdie reeks vind op 18 Augustus by Rysmierbult naby Potchefstroom plaas en Maarten glo juis dat die tuistoestande hom goed sal bevoordeel.

“Ek ken die baan baie goed so ek sien nogal uit om te kyk hoe ek in bekende toestande gaan ry.  Ek is sover baie bly oor my posisie in die reeks. Hierdie sport is al werklik so deel van my,” noem hy.

Maarten, wie se held die voormalige Moto GP wêreldkampioen, Valentino Rossi is, het ook groot drome om eendag sy talente op die internasionale arena ten toon te stel met die Dakar-tydren as ‘n mikpunt.

“Die Dakar is die moeilikste een van almal, veral op ‘n motorfiets. Dit sal ongelooflik spesiaal wees om te kan deelneem eendag.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button