SportSport

Luiperds moet wen, sê May

“Die belangrikste paar wedstryde in die bestaan van die rugbyunie lê voor!”

“Die belangrikste paar wedstryde in die bestaan van die rugbyunie lê voor!”

Dis hoe André May, president van die Luiperds, Maandagaand op die vooraand van die kwalifiserende rondes van die Curriebeker die noodsaak dat die Luiperds moet kwalifiseer vir die Premierliga van die Curriebeker, onderstreep het.

Die noodsaak vir borge om die spel in die provinsie aan die lewe te hou, is duidelik. Daar is borge wat wil inklim, maar op voorwaarde dat die Luiperds in die Premierliga speel.

Die eersteliga kry min tot geen mediadekking nie en dit beteken dat die borge ook nie blootstelling kry nie. May het verder gesê dat die broodnodige opwaartse stap nou moet gebeur. Dit is wat die Pumas gedoen het. “Ons kan dit ook doen. Julle moet julle verantwoordelikhede teenoor die Unie nakom. Julle moet die geleentheid gebruik,” het May aan die span en afrigters gesê.

Hy het die span uitgedaag om op 7 Augustus op Olënpark in die Premierliga van die Curriebeker teen die WP op te draf. Dit is die vasgestelde datum indien die Luiperds kwalifiseer.

Hoofafrigter Robert du Preez was eerste aan die woord en hy het verduidelik hoe die span self hulle strategie vir die seisoen uitgewerk het en dat hulle sekere waardes soos eerlikheid, dissipline, werksetiek, nederigheid, integriteit en effektiwiteit aanvaar het. Die hooftema is Onoorwonne Geloof (“Unbeaten Faith”). Dit hou in dat hulle gees nie gebreek sal word nie en dat hulle geloof in hulle as span en in die unie sal behou. Du Preez het dit onderstreep dat “elke wedstryd in die kwalifiserende liga gewen moet word!” Die span spog met ‘n nuutingerigte kleedkamer wat nie ‘n duim terugstaan vir die kleedkamers vir tuisspanne soos op Ellispark en Loftus nie.

*Die Luiperds draf Vrydagaand in George teen die SWD Arende op in die eerste wedstryd. Volgende Saterdag (20 Junie) is die Luiperds tuis in aksie teen die Valke.

Span teen die Arende: Rhyno Smith; Sergio Torrens, “Juffrou” Vermeulen, Johan Deysel, AD Jacobs; Meel Engelbrecht, Dillon Smit; Juan Language ©, HP Swart, Marno Redelinghuys, Francois Robertse, Robert Kruger, John-Roy Jenkinson, Stitches Fourie, Joe Smith. Reserwes: Dane van der Westhuizen, Devon Martinus, Stairs Mhlongo, Loftus Morrison, Malherbe Swart, Rowayne Beukman, Jaco Hayward.

Related Articles

Back to top button